Minister van grondhervorming wil nie hof toets nie maar lokval stel – Solidariteit
Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat die nuutaangestelde minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoane-Mashabane, se uitlatings dat sy wil voortgaan om grond te onteien voordat die parlementêre proses oor die wydbesproke kwessie afgehandel is, ʼn bewys is dat die ANC se mooipraatjies dat grondeienaars nie moet bekommerd wees nie eintlik bloot ʼn lokval is.

Nkoane-Mashabane het op die huidige grondberaad gesê dat sy reeds ʼn eiendom vir dié doeleindes geïdentifiseer het.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, is dit onrusbarend dat Nkoane-Mashabane bygevoeg het dat sy egter nog nie die eiendom wil bekendmaak nie omdat sy vrees dat dit die huidige eienaars sal tyd gee om verteenwoordiging te bekom en om vir ʼn moontlike hofgeding voor te berei wat haar taak sal bemoeilik. “Hierdie stelling blaas haar argument dat sy hierdie geval as ʼn toetssaak wil gebruik totaal en al uit die water omdat dit duidelik is dat sy nie werklik omgee oor wetlike prosedures nie,” het Mulder gesê.

“Dit blyk dat die ANC nie net van plan is om burgers van hul eiendomsreg te stroop nie, maar dat hulle ook bereid is om ander grondwetlike regte te vertrap ten einde daardie doel te bereik,” het Mulder gesê.
Volgens Mulder is dit duidelik dat daar ʼn teenstrydigheid is tussen wat pres. Ramaphosa sê en die uitsprake wat sy ministers rakende die kwessie maak. “Die ANC tree dus net binne die raamwerk van die wet op solank dit nie hul uiteindelike doel belemmer nie,” het Mulder bygevoeg.
“Die enigste verskil tussen die ANC en die EFF se siening van grondonteiening is die grootte van die bende wat die grond wil vat,” het Mulder gesê.



