NewsNews

Nou druk Ngwathe se geldskoen éérs

Dit voorspel niks goeds nie.

Opposisielede van Ngwathe se Staande Komitee oor finansies was verstom om verlede Donderdag te moes hoor van “onvoorsiene geldprobleme”.
Dit blyk nou die munisipaliteit raak agter met sy maandelikse betalings aan onder meer die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens, pensioenfondse en ook aan ander leweransiers.
Mnr. Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder, moes reeds op 21 Junie Eskom vra om uitstel van gereelde afbetalings wat Ngwathe op sy agterstallige skuld beloof het.
Gazette het op 7 Junie berig dat opposisieraadslede nie die nuwe begroting wou goedkeur nie, juis omdat dit volgens hulle “nie, soos wetlik vereis, gebaseer was op realistiese aannames oor inkomste nie.” DA-raadslid Poloko Molaphene, het destyds gesê die begrotingsaannames oorskat verwagte inkomste. Die munisipale bestuurder het egter die skattings verdedig, en nie toe verwys na enige onvoorsiene geldprobleme nie, word gesê.
DA-raadslid Robert Ferendale, sê hy is ook bekommerd oor “buitensporige huurgelde” vir ‘n padskraper en sê dat dit verder ondersoek sal word.
Ook rdl. Phillip van der Merwe (Vryheidsfront Plus) het hom op die Finanskomitee sterk uitgespreek oor die nuwe “geldprobleme”.
Hy sê hy voorspel dit lank reeds, “maar ek kon net paaiwoorde as gerusstelling kry.”
Volgens hom moes amptenare die penarie betyds aan die Raad voorgelê het, maar hulle het selfs twee weke gelede nog daaroor geswyg. “Hulle was tjoepstil toe ek op die Eskom Taakspan sê ek kan hoegenaamd nie insien hoe Ngwathe sy beloofde maandelikse afbetalings aan Eskom sal kan volhou nie.” Hy sê sy vrae is ontwyk.
DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, die ander opposisielid van die Taakspan, het eergister burgemeester Mochela gevra vir ’n volledige verslag oor die geldprobleem en vordering met oplossings. Hy het gevra dat dit bespreek sal word oor tien dae, op die volgende vergadering van die Taakspan.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button