NewsNews

Wat laat Vaal se visse vrek

Die Vaal Action Group hou op 25 Augustus om 11:00 'n openbare vergadering in die NG Parys Wes kerksaal. Almal is welkom.

Parys – Baie is al gesê, maar wat is werklik die rede vir die Vaal se visvrektes? Dosyne dooie visse word steeds daagliks uit die rivier gehaal. By Vosrite Fishing Adventures, 22km buite Parys in die Vredefort Koepel Wêrelderfenisgebied, is al meer as ’n duisend dooie visse uit die rivier gehaal, en Dinsdag alleen weer oor ’n honderd.

Die hartseer gesig van dosyne dooie visse wat steeds daagliks uit die Vaalrivier gehaal word. Foto: Henning Vosloo.

Hierdie is maar enkele van die visse wat weer die naweek uit die Vaalrivier gehaal is. Foto: Henning Vosloo.
Rioolstorting deur munisipaliteite word as sondebok vir die ramp uitgewys, maar die Departement Waterwese en Sanitasie, het verlede week gesê, studies het getoon dat van die oorsake van die visvrektes by Vaal Barrage en stroomaf, is weens chroniese stres as gevolg van lae suurstof konsentrasies en natuurlike variasies met seisoenale weersveranderinge.
Die Vaal Action Group het Maandag in ’n  poging om antwoorde op hul vrae te kry,  by drie punte in die Vaalrivier watermonsters laat neem. Die monsters is geneem deur ’n  private laboratorium, Envirocare van Potchefstroom. Mikrobioloog Ilse Simpson, het die monsters naby die Parys Watersuiweringswerke, net onder die Barrage, en 15km stroomaf van Parys, geneem.

Johan de Klerk saam met mikrobioloog Ilse Simpson van Envirocare Laboratorium in Potchefstroom, waar die eerste watermonster van die Vaalrivier Maandagoggend naby Parys se Watersuiweringswerke geneem is.

Die groep soek ook na minstens 10 sterwende visse, of visse wat pas gevrek het, waarop outopsies gedoen kan word. Hoewel ander instellings al watermonsters van die Vaalrivier geneem het, is outopsies op die Vaalrivier se dooie visse van kardinale belang om vas te stel wat die rede vir die vrektes is. Die visse wat gekry word moet in ys in ’n houer in die yskas of vrieskas bewaar word, tot die outopsie gedoen kan word. Mense wat op sterwende visse sou afkom, moet dringend Johan de Klerk by 072 744 2915 skakel. Oewereienaars wat dooie visse sou kry is ook deur die groep gevra om dit uit die water te haal en te begrawe of te verbrand.
Johan is voorsitter van die Vaal Action Group wat verlede Donderdag formeel gestig is as vrywillige organisasie met die doel om alle natuurlike hulpbronne in Suid-Afrika te beskerm.
Vir nou fokus hulle op die Vaalrivier en wil hulle sien dat die besoedeling, hetsy rommel, riool of nywerheidsafval in die Vaalrivier, gestop word. Dan moet rehabilitasie van die rivier gedoen word, en stelsels in plek gekry word om die rivier te monitor.
Hy sê die groep wil nie betrokke raak by politieke agendas nie, en is lidmaatskap tot die groep heeltemal vrywillig en gratis. Geen geldelike bydraes word gevra nie. Lede getalle help egter om die groep se stem te laat tel in hul poging om die land se waterbronne te beskerm. Tans het die groep reeds oor die 500 lede.
Johan sê dit is tyd dat die feite oor die ware toestand van die Vaalrivier gekry word. Sodra vandeesweek se toetsuitslae bekend is, wil hulle met hul aksieplan begin.
Die groep sal ’n  publieke vergadering hou, nie net vir mense van Parys nie, maar ook omliggende dorpe wat belang het by die Vaalrivier, om mense in te lig oor strategieë wat voorgestel word. Die vergadering sal op 25 Augustus om 11:00 in die NG Parys-Wes kerksaal gehou word.
As jy by die Vaal Action Group wil aansluit, gaan na www.vaalactiongroup.co.za en volg die stappe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button