NewsNews

Ma en seun sterf saam op pad na skaakkampioenskappe

“Rus sag en weet ons was vreeslik lief vir julle,” sê Sedibeng Skaak

Sarina van Zyl en haar kinders, Rico (11) en Zanika (8). Sarina en Rico het vroeg Sondagoggend in ‘n gru-botsing op die R59-roete tussen Sasolburg en Vereeniging gesterf.

SASOLBURG. – Die skoolgemeenskap van Emmanuel Private School in Vanderbijlpark is in rou na die dood van hul geliefde sport-koördineerder, mev. Sarina van Zyl, en haar 11-jarige seun, Rico.
Sarina en Rico het omstreeks 07:00 Sondagoggend (16 Desember) op die R59-snelweg in ‘n kop-teen-kop botsing tussen Sasolburg en Vereeniging naby die Taaibosspruit, gesterf.
Sarina en Rico was onderweg na die SA Nasionale Junior Skaakkampioenskappe by die Birchwood Hotel in Johannesburg, waar Rico sou deelneem.
Een insittende van die ander voertuig het ook gesterf, en twee vroue is ernstig beseer. Een van hulle is met ER24 se Oneplan-noodhelikopter na ‘n Johannesburgse hospitaal vervoer.
Sarina, wat in die Vaaldriehoek grootgeword en aan Hoërskool Vereeniging skoolgegaan het, was sedert April vanjaar aan Emmanuel Private School verbonde. Sy was volgens haar kollegas ‘n baie vriendelike, gelowige en geliefde mens wat uit haar pad gegaan het om goed te doen aan ander. Sy het gelewe vir haar kinders.
Sarina se dogtertjie, Zanika (8), was nie ten tyde van die botsing in die voertuig nie omdat sy die dag by haar ouma in Vanderbijlpark gekuier het.
Volgens Erika Honiball, ‘n kollega, is Sarina se voormalige man en pa van haar kinders, Jaco van Zyl, ook minder as ‘n jaar terug oorlede.
Die organiseerders en deelnemers aan die nasionale junior skaakkampioenskap was Sondag erg geskok toe die nuus oor Sarina en Rico se dood deur een van die beamptes aan hulle oorgedra is. Die kampioenskap is met ‘n stilte as huldigingsgebaar aan Sarina en Rico, geopen.
Sedibeng Skaak, waarvan Rico ‘n lid was, betreur die ma en seun se dood in ‘n inskrywing op hul Facebook-blad. “Rus sag en weet ons was vreeslik lief vir julle,” lui die inskrywing.

Die organisasie het sy diepste meegevoel met die familie en vriende betuig en gesê ‘n skaakbord sal dwarsdeur die skaakkampioenskapsweek ter nagedagtenis aan Rico oopgehou word.
Die begrafnisreëlings vir Sarina en Rico sal later die week deur hul familie bekend gemaak word.

Een van die beamptes dra die doodstyding oor aan deelnemers by die SA Nasionale Junior Skaakkampioenskappe wat dié week in Johannesburg plaasvind.

Die skaakkampioenskap is met ‘n paar oomblikke van stilte ter nagedagtenis aan Surina en Rico geopen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button