
Die Waterstraat-kruisings by Buitenstraat en Loopstraat was teen Gazette se druktyd steeds gesluit vir verkeer met ‘n nuwe pyplek wat Maandag ontdek is waar daar verlede Donderdag en Vrydag ook herstelwerk deur die tegniese span van die Ngwathe munisipaliteit gedoen is. Volgens die munisipale woordvoerder, mnr. Steve Naale, is dit die rede vir die oponthoud om die gat toe te maak en die teervlak te seel.

Die gevolg – totale verkeerschaos sedert verlede Donderdag, veral in Loop- en Philipstraat. Met geen duidelike aanwysings van alternatiewe roetes wat gevolg moet word nie, was dit ’n nagmerrie vir talle swaarvoertuie wat daagliks en veral verlede week op maandeinde hier verby moes gaan.
In Philipstraat kon van die swaarvoertuie glad nie hul draai kry nie. Besighede langs dié gesluite gedeelte van Waterstraat het ook aan die kortste end getrek.
Die pyplek het Donderdag boonop gesorg vir droë krane. Teen Vrydagaand moes ’n tweede pyplek hier reggemaak word. En teen Dinsdagoggend was daar steeds nie sekerheid wanneer die pad weer oopgestel sou word nie.



