Tot vandag toe dra hy Bronx, want dit is met dié droom van ’n paar skoene, waar die lewensskool se lesse van weer probeer diep getrap is vir Kokkedoor, Pieter Malan.
Om die ontbyttafel by Egweni, op pad na die Noord-Kaap vir ’n mini reünie van vyf van die Kokkedore, vertel hy sy verhaal van geloof en deursettingsvermoë.

Pieter Malan wie se lewe ’n storie vertel van geloof en deursettingsvermoë.
Foto: Verskaf.
Hy’t swaar grootgeword en gou geleer dat skoengom later nie meer ’n sool bymekaar hou nie. In graad 7 begin hy werk by die Spur in Middelburg om sy ouers te help, en teen einde graad 10 is sy harde werk beloon toe hy bestuurder van die Spur geword het.
Net twee jaar later het hy drie restaurante bestuur en matriek geslaag met ’n onderskeiding in gasvryheidstudies.
Vakansies was die lekkerste wanneer hy en sy broer by hul pa, Johan Malan, in Viljoenskroon kon gaan kuier.
Sy pa was ’n radioman wat die laaste paar jaar van sy lewe by Overvaal Stereo gewerk het. Hy is vier jaar gelede oorlede.
Omdat sy pa en ma geskei was, het die tannies my pa jammer gekry wanneer ons kom kuier het en die yskas gelaai met koeke en terte, soos die Marmite-koek wat hy tot vandag onthou.
Die vakansies se helpery by die radio het onder sy vel kom lê, en vandag is dit juis die radiowerk wat hy die afgelope 6/7 jaar doen wat hom laat voel dat sy pa by hom is as hy sy liefde vir kosmaak en die mikrofoon bymekaar bring.
Na matriek het hy vir ’n kort ruk die voorreg gehad om sjefskool toe te gaan, maar kon hy nie klaarmaak nie omdat hy en sy broer, Johan, die belangrikste broodwinners in hul gesin was. Hulle wou ten alle koste hul ouers help, en het die Bronx-droom weer broodgeld geword met ’n bestuurspos waarin hy by die Alzu-groep in Middelburg kon instap danksy sy jarelange ervaring by die Spur.
Maar sy sjefdroom wat hy moes prysgee het hom in ’n diep gat van depressie laat verval waar hy ontvlugting in alkohol en dwelms gesoek het.
Eers toe hy genesing hiervan gekry het, het hy besef dat hy steeds sjef kan word, en begin om aan elke moontlike kompetisie deel te neem.
So het hy deelgeneem aan die Global Pizza Challenge wat hy wen in 2012, die Bring-en-braai KykNet-kompetisie, Passella se Tuiskok van die Jaar en die Kia Cook-off waar hy telkens tweede plekke behaal het.
Vandag weet hy dat tweede plekke hom nederigheid geleer het. Genesing gebring het.
Sy paaie laat kruis het met mentors soos Reubin Riffel, Martin Kobald en Daniel Nkhumalo.
Dit het hom sy mes skerp laat hou vir kompeteer, hom in die drukkoker gesit om altyd sy beste te gee – dit wat niemand vir jou in enige kursus kan leer nie.
Sy passie vir kosmaak kom waarskynlik van sy oumas – die een wat die kuns van ’n “Seven Colour Sunday” verstaan het, en die ander, ’n pastorievrou wat van niks ’n feesmaal kon maak.
Vandag is hy naas sjef, sakeman met sy eie onderneming waar hy uitvoerende konsultant vir ’n aantal restaurante is, radio-persoonlikheid en pa, ook motiveringspreker by die CRC kerke. Iemand wat die lesse wat die lewe hom geleer het met ander wil deel, ook met Chefs for Christ wat hy in 2012 begin het.
En dan is daar sy resepteboek, PappaSjef, geïnspireer uit die WhatsApp groep geselsies van jong pa’s.
Wat begin het met ’n bababottel uitdaging, het uiteindelik ontwikkel in vindingryke eerste koskennismaak resepte wat Pieter saans opgetower het vir hom en sy vrou, Michelle, se seuntjie, Zion. Die boek sal na verwagting teen Desember op die winkelrakke wees en vertel Dalene Vermeulen hierin Pieter se verhaal, en wat hy uit ouerskap geleer het.
Oor Kokkedoor sê hy dat dit sy grootste toets vir deursettingsvermoë was. In agt jaar het hy drie keer probeer, maar is uiteindelik eers einde 2018 gekies vir die reeks.
Die Kokkedoor-stel was ’n leerskool op sy eie. Daar waar mense soos miere krioel. Almal ken jou.
Daar is niks om weg te steek nie. Dit haal al die emosie uit jou as jy voor die kamera is van 05:00 die oggend tot soms na 02:00 die volgende oggend, vertel Pieter.
En noudat die reeks gebeeldsend word, is jy ook net ’n kyker wat almal se drama beleef, sê hy.
As sjef eksperimenteer Pieter graag om die bekende, onbekend voor te sit, maar tuis is eenpotwonders soos dié Pastoriehoenderrys-staatmaker, sy gunsteling.
Pastoriehoender
* 1 pak hoenderdye
* Hoenderspeserye & sout (na smaak)
* Naeltjies & hoender-aftreksel (stock)
* 500ml rou rys
* 1 MSG-vrye bruinuie sop
* 2 Uie
* 1 Teelepel fyn knoffel
* 500ml kookwater
Neem ‘n oondpan of oondkasserol en gooi die rys onderin. Strooi die soppoeier oor die rys.
Braai die uie en smeer bo-oor. Pak die hoenderstukke bo-op en geur. Gooi die water bo-oor alles. Maak toe met die deksel of foelie. Bak teen 180°C tot gaar. Verwyder die deksel (of foelie) en bak tot bruin.
Wenke:
* Indien die water in die resep te min is om die rys gaar te kry, gooi ek water op tot dit die rys net-net bedek en bak verder.
* Die rys of hoender kan vermeerder of verminder word na behoefte.
* Feitlik enige tipe rys kan gebruik word. Bruin rys is ‘n gesonder opsie.





