
Parys – Net soos wat voorspel is, is die eerste botsing vanmiddag in Philipstraat aangemeld te danke aan swaarvoertuie wat nou hier verby moet beweeg as gevolg van die sluiting van die Waterstraat- en Buitenstraat kruising, en die Loop- en Waterstraat kruising.
Die kruisings dra daagliks baie swaar verkeer met heelwat vragmotors.
Die munisipaliteit het twee weke gelede al begin om by die kruising van Water- en Buitenstraat ‘n pyplek reg te maak, maar sonder sukses.
Vanoggend het dit nog gelek en was die kruisings steeds gesluit.
Die hulp van ‘n kontrakteur is nou ingeroep om te help om die herstelwerk te doen.
Met geen borde wat alternatiewe roetes aandui en swaar verkeer via Loopstraat herlei nie, beteken dit dat vragmotors nou in Philipstraat by geparkeerde voertuie en by mekaar moet verby skuur. Sommige kry nie eens hul draai nie.
So is ‘n geparkeerde motor vanmiddag deur ‘n vragmotor gestamp en was die straat ‘n totale verkeerschaos.

En nog is daar geen aanduiding van wanneer die kruisings oopgestel gaan word nie.



