Hoërskool Parys se 2019 matrikulante het weer geskitter met spog uitslae en is een van die skool se leerders, Joshua van Zyl, onder die top 100 matrikulante in die Vrystaat-provinsie. Joshua is dan ook genoooi na die Onderwys Departement se “Well Done” funksie wat vanoggend by die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein gehou is vir die provinsie se beste kandidate.
Hy het onderskeidings behaal in al 7 sy vakke wat Afrikaans Huistaal, English First Additional Language, wiskunde, lewensoriëntering rekeningkunde, fisiese wetenskappe en rekenaartoepassingstegnologie ingesluit het.

Joshua was ook Hoërskool Parys se Dux-leerder vir 2019.
Naas Joshua spog nog twee van die skool se 2019 matrikulante, Bennie Marais en Johan Claassen, albei met 5 onderskeidings elk.
Volgens Bennie wat ook vanjaar Hoërskool Parys se president van die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) en kaptein van beide die skool se eerste rugby- en krieketspan was, het sy uitslae sy grootste verwagtinge oortref. Hy het gehoop vir ‘n 80% gemiddeld en ‘n A vir Rekeningkunde en Fisiese Wetenskap. Vanoggend was ‘n matrieksertifikaat met 5 A-simbole en ‘n gemiddeld van 81,8% vir hom die loon op baie ure se harde werk. Sy A’s het hy gekry vir Afrikaans Huistaal, wiskunde, rekeningkunde, fisiese wetenskap en lewensoriëntering.

Bennie Marais
Bennie het buiten sy leierskap en sportverpligtinge vier dae ‘n week nog tyd ingeruim vir ekstra klasse. Hy sê veral die Wiskunde en Afrikaanse vraestelle was moeilik.
Hy het eers einde graad 11 finaal besluit dat hy sy oog op geoktrooieerde rekenmeesterstudie het, en sal hy vanjaar aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus sy studie begin.
Ook Johan het ‘n kop vir syfers en begin vanjaar met geoktrooieerde rekenmeesterstudie aan die Pukke danksy ‘n beurs van die Nedbank Bursary Programme. Sy onderskeidings het hy behaal in rekeningkunde, Afrikaans Huistaal, English First Additional Language, Lewensoriëtering en Rekenaartoepassingstegnologie.
Vir hom is die geheim van sukses gebed wat jou anker is op elke tree van jou lewenspad. Daarbenewens is sy boodskap vir vanjaar se matrikulante om in hulself te glo en die beste te doen wat jy kan.
Hy stem saam – die Wiskunde-vraestel was beslis ‘n uitdaging.

Johan Claassen
Volgens die skoolhoof, mnr. Lucien van Zyl, is die skool se uitslae selfs nog beter as in 2018 en het die 103 matrieks van 2019 ‘n slaagsyfer van 97% behaal. Vyf en sestig van die matrikulante (63%) het vrystelling om by universiteite te gaan studeer, terwyl 25% slaag met diploma toelating. In totaal dus 88% van die matriekklas wat toelating het tot tersiêre studie.
Mnr. Van Zyl het ook gesê dat die eindeksamen by die skool sonder haakplekke afgeloop het selfs ten spyte van beurtkrag.
Die Vrystaat provinsie se 2019 matrikulante het die hoogste slaagsyfer van 88,4%, en is die Fezile Dabi-streek waarin Parys val, ook vierde onder die top tien streke in die land met 90,3%.
Baie geluk aan elke matrikulant met die uitslae wat behaal is. Mag hierdie die begin van ‘n opwindende nuwe lewensreis vir elkeen van julle wees.
- Matrikulante wat vraestelle wil laat hermerk moet onthou dat die sluitingsdatum vir aansoeke vir hermerk 22 Januarie 2020 is.
- Parys Gazette sal ook die ander skole in Parys se toppresteerders se uitslae publiseer soos wat dit ontvang word.





