
Haar op-en-wakker blik en opgeruimde glimlag verklap nie dat Luke Franke ‘n hele 103 jaar oud is, waar sy in haar bed in die verswakte afdeling by Sally Martin Park lê.
Dié oudmatrone van beroep het op 6 Februarie haar verjaardag gevier en was tot op ouderdom 90 nog heeltemal selfversorgend.
Sy het destyds op 65 afgetree as matrone van die Harrismith-hospitaal, waarna sy na Parys verhuis het.
Haar jarelange vriendin, Tineke Botha, vertel dat Luke in 1953 van Holland na Suid-Afrika gekom het na die Tweede Wêreldoorlog. Sy was toe al ’n hoogs gekwalifiseerde verpleegkundige en het dadelik ‘n senior verpleegpos hier in Suid-Afrika gekry.
Met Tineke wat ook in Nederland gebore is, het hulle sommer dadelik boesemvriende geword toe hulle mekaar by die Voortrekker-hospitaal in Kroonstad raakgeloop het. So het Luke oor die jare ook ‘n plek in Tineke se familiekring gekry. Sy was by Tineke se troue en het bygestaan met die geboorte van al Tineke se kinders. Later jare was sy soos ‘n ouma vir Tineke se kinders wat help serpe brei en koekies bak het – al die dinge wat oumas mos maar doen, vertel Tineke.
Luke se verpleegloopbaan het haar na verskeie hospitale gelei. Sy het ook verpleegadministratiewe opleiding hier ontvang en moes selfs SA burgerskap aanvaar voordat sy die pos as matrone kon aanvaar. Destyds was burgerskap ‘n streng vereiste vir poste in staatsinstellings.
Luke was nog altyd iemand wat graag gereis het en vir wie godsdiens baie belangrik is. Op 103 vertel daardie glimlag van die vele paaie waarop haar lewensreis haar geneem het.