
Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk
Retha Fitchat
“Kersfees en Nuwejaar was seer. Nie net hartseer nie maar sielseer. En as ek eerlik moet wees, is dit steeds. Dit was ‘n gruwelike, wrede en uitmergelende jaar.”
So sê Ankia Botes, ma van Clari, wat in Graad 11 was toe die brug verlede jaar neergestort en haar ernstig beseer het. Clari se pelvis en enkel is gebreek en sy het uitgebreide inwendige beserings opgedoen – met lewenslange nagevolge.
Volgens Ankia is daar steeds elke dag fisiese en emosionele pyn. Clari se plate in haar heupe en been, en die skroewe in haar enkel gaan nie verwyder word nie. Sy loop nou met ‘n waggelstappie want haar een been is nou heelwat korter as die ander. “Maar voorgee is haar specialty. Voor ander probeer sy normaal loop maar na so ‘n uur hang sy aan mamma se arm want die pyn raak net te erg,” sê Ankia.
Hoewel Clari ‘n brawe glimlag voorhou en grappies maak, is sy met posttraumatiese stres en depressie gediagnoseer. Die geluid van vuurwerke oor Nuwejaar het byvoorbeeld ‘n angsaanval tot gevolg gehad. Sy skrik ook nog soms in die nag wakker van angs.Haar asemhaling in nou vlak as gevolg van ‘n suurstoftekort toe sy onder die brug vasgekeer was. Dit het ook haar korttermyngeheue aangetas. ‘n Senuwee word vasgeknyp by haar vierde rugwerwel, wat ook nog baie pyn en ongemak veroorsaak.Ondanks die lang pad na herstel wat nog voorlê, is die Botes-gesin vol vertroue dat dit net al beter sal gaan.
“Ja, daar is beslis baie negatiewe dinge, maar ons is ‘n paar gesinne wat steeds deur die hartseer werk. Dis nog lank nie oor nie, maar Goddank, ek kan my kind nog vashou en na haar kyk. Sy lewe en dis al wat saak maak. Hierdie nuwe jaar gaan háár jaar wees. Sy is gemotiveerd en sy weet haar ma en God staan bankvas agter haar,” sê Ankia.