
Die nadoodse ondersoek is nog nie afgehandel na die dood van die 24-jarige Ruan Voges wat Saterdagaand in ‘n Bloemfonteinse hospitaal dood is nadat hy Vrydagaand, 6 Maart in Breëstraat kritiek in ‘n tref-en-trap-ongeluk beseer is.
Ruan wat van Springs afkomstig was, het in Parys gekuier. Hy wou oënskynlik Breëstraat kruis toe hy raakgery is.
Familie van Ruan het Saterdag ‘n ernstige pleidooi gerig tot ooggetuies of mense wat inligting het oor die ongeluk, om na vore te kom.
Ruan se broer Ronnie, het ook ‘n beloning van R1 000 aangebied vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle opsporing van die persoon wat Ruan raakgery het.
Die begrafnisreëlings was met die plasing van hierdie berig nog nie gefinaliseer nie.




