News

Waterkrisis: Nou word gevra oor watertenks

Komitee hoor herstelwerk dalk einde Maart klaar

Terwyl mense al verby keelvol is oor die maandelange gesukkel met min of geen water in Parys, Tumahole en Schonkenville, het die Ngwathe munisipaliteit se waterbestuurder, mnr. Phele, vanoggend ‘n versoek gerig dat mense sal aandui waar die ergste waternood is, en waar moontlik JoJo watertenks as noodmaatreël geplaas kan word, tot tyd en wyl herstelwerk by die dorp se waterwerke voltooi is.

Daar is gesê dat mense in gedagte moet hou dat die plekke waar tenks geplaas sal word toeganklik vir voertuie moet wees en watertenks by die tenks sal moet kan uitkom om dit te vul.

Die versoek kom nadat die munisipaliteit vroeër al aangedui het dat watertenks en watertenkers beskikbaar gestel word om mense te help wat ernstig geraak word deur die waterkrisis wat al vir maande voortduur. In sommige dele van die dorp is daar bykans nooit water in die krane nie, terwyl meeste dele min of gereeld ook nie water het nie.

Maar van die 64 tenks waarvan melding gemaak is by die burgemeester se laaste taakspan vergadering oor die dorp se waterkrisis, was daar tot nou toe nog net stilswye. Die Ngwathe munispaliteit het op geen versoeke van die Gazette of raadslede gereageer om ‘n lys  bekend te maak waar die tenks geplaas is, en of die tenks al geplaas is nie.

Intussen berig die VF Plus se raadslid Phillip van der Merwe dat die Ngwathe munisipaliteit  die fondse wat vir die herstel en opgradering van Parys se waterwerke nodig was, bekom is.

Bedrae van R5m en R6,5m onderskeidelik is uit twee staatshulpskemas vir die projek geoormerk.
Die herstel van die disfunksionele suiweringstelsel is eerste aan die beurt en Sedibeng Water, wat die eerste R5m beskikbaar gestel het, is aangestel as implementeringsagent vir die projek.

Daar word voorsien dat die herstelwerk aan die pakketaanleg by die waterwerke dalk teen einde Maart vanjaar voltooi behoort te wees.

Sodra die suiweringswerke weer na behore funksioneer, word beoog om die waterhouer (sump) waarin die water na die suiweringsproses gestort word om in die netwerk ingepomp te word, skoon te maak ten einde te verseker dat Parysenaars daarna nie net voldoende water ontvang nie, maar ook water van ‘n aanvaarbare kwaliteit. Direk na hierdie proses sal opgaardamme ook finaal skoongemaak word om te verseker dat water nie later in die verpreidingsproses weer besoedel word nie.
Rand Water het ingestem om as tussentydse noodmaatreël ekstra water uit ‘n opgaardam by Sasolburg beskikbaar te stel. Die water sal met tenkers vanaf Sasolburg na Parys vervoer word en gebruik word om JoJo tenks te vul.

Dit sal meebring dat van die JoJo tenks nie meer met water afkomstig uit die suiweringswerke gevul sal hoef te word nie, wat weer druk op die waterwerke sal verlig.

“Inwoners moet egter kennis neem dat die voorsiening van water by wyse van JoJo tenks en tenkers slegs ‘n tussentydse maatreël is,” sê rdl. Van der Merwe.

Daar word tans ook (op ‘n ietwat langer termyn) beplan om ‘n nuwe voorafsuiweringsaanleg te bou wat sal meewerk om waterkwaliteit aansienlik te verbeter, en om ‘n nuwe pyplyn te bou vanaf opgaardam 4 na ‘n druktoring in die Sisulu-woongebied om swak waterdruk daar aan te spreek.

* Die munisipaliteit self het teen Gazette se druktyd egter geen terugvoer gegee oor die vordering met die herstelwerk by die dorp se waterwerke nie, en ook nie of daar al begin is nie.

Dit ten spyte daarvan dat die adjunkminister van menslike nedersetting, water en sanitasie, mnr. David Mahlobo, met sy besoek in Februarie aan die waterwerke in Parys ‘n duidelike opdrag gegee het dat die publiek op hoogte gehou moet word van vordering wat gemaak word om die dorp se waterkrisis op te los.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button