Terwyl baie dalk al sou moed opgee, het Lynette de Winnaar van Vanderbijlpark letterlik dag en nag bly soek na die gesin se geliefde Great Dane, Tara, wat op 29 April weggeraak het.
En vandag, op Moedersdag, is Tara, wat soos ‘n kind in die De Winnaar-huishouding is, uiteindelik teruggevind nadat mense letterlik van oraloor die afgelope twee weke gehelp soek het na Tara.
Vanmiddag, Sondag 10 Mei, is Tara skaars 100m van haar tuiste, in ‘n veldjie agter die Spar in Fitzsimmonstraat, SE6 opgemerk.
Hoewel sy baie maer en moeg is na die 11 dae se omswerwinge is daar oneindige vreugde in die De Winnaar huishouding vanaand. Hulle vermoed dat hul hek dalk nie behoorlik toe was nie, en dat Tara bes moontlik so uit die erf gekom het.
Lynette het vandag op haar Facebook-blad dankie gesê aan almal wat help soek het. “Ongelooflik baie dankie vir elke gebed, elke boodskap, elke liter petrol wat jy uitgery het…as jy nie in wonderwerke glo nie, ek glo weer. Ons dien ‘n groot God, moet dit nooit vergeet nie. My baba is by die huis,” het Lynette in ‘n videoboodskap gesê.





