
Die NAMPO Oesdag, wat landbou al amper ses dekades bymekaarbring, sal vir die eerste keer deur die organiseerders, Graan SA, gekanselleer word weens die COVID-19-pandemie.
Die Oesdag is aanvanklik met die uitbreek van die pandemie tot Augustus uitgestel, maar na die aankondiging van ‘n ongespesifiseerde verbod op groot byeenkomste, sal die NAMPO Oesdag op NAMPO Park nou nie plaasvind nie.
Dit beteken egter nie dat boere nie die beste kan geniet wat landbou kan bied nie. Die 2020 NAMPO Oesdag, wat die 54ste aanbieding van hierdie ikoniese landbouhandelskou sal wees, gaan aanlyn.
Van 9-12 September sal die virtuele NAMPO nuut, opwindend en innoverend wees en boere, verskaffers en kollegas verbind met baie van hul gunsteling-uitstallers en ‘n magdom aanlyn-inhoud van die industrie en van regoor die wêreld. Graan SA sal die grootste landbou-handelsvertoning omskep in ‘n gerieflike en veilige interaktiewe aanlyn virtuele ervaring.
Daarbenewens is die NAMPO-virtuele platform beskikbaar met uitgebreide vertoonure van 09:00 tot 19:00, en sluit ‘n Saterdag tot 14:00 in. Besoekers kan inskakel met ‘n internetblaaier, hetsy dit ‘n telefoon, tablet of rekenaar is.
“Tydens ‘n pandemie wat na verwagting in September eers ‘n piek sal bereik, kan ons nie verantwoordelik voortgaan met ‘n handelskou wat meer as 20 000 besoekers per dag lok nie. Ondanks maande lange beplanning, die deurgaanse oorweging van die toestand van die pandemie, en ‘n aanvanklike verlenging van die oorspronklike NAMPO Oesdagdatum, is die kansellering van die Oesdag die enigste logiese aksie,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, gesê.
NAMPO Oesdag sal sy digitale teenwoordigheid opknap met ‘n virtuele byeenkoms wat die meeste van wat die besoekers tydens die fisiese Oesdag sou beleef het, bevat. Uitstallers wat ook positief op die virtuele aanbieding reageer het, sal al hul produkte op die virtuele NAMPO-platform kan vertoon en hul nuutste innovasies ten toon stel, terwyl besoekers kan aanmeld vir een-tot-een-konsultasies en deur die nuutste tegniese aanbiedings en produkdemonstrasies kan delf.
“Die koronavirus-pandemie het elke uithoek van die wêreld aangeraak, en hoewel dit hartseer is dat die 2020 NAMPO Oesdag nie gaan plaasvind nie, is Graan SA se belangrikste verantwoordelikheid om seker te maak dat boere, uitstallers, belanghebbendes en personeel veilig bly,” het Toit Wessels, assistentbestuurder vir NAMPO gesê.
“Daar is ook op die stadium geen aanduiding van wanneer beperkings opgehef kan word of wanneer dit veilig gaan wees om rondom skares mense te vergader nie.”
Ander NAMPO-geleenthede
Graan SA is in gesprek met sy vennote van NAMPO Kaap en NAMPO Alfa Lewendehawe, Jag en Buitelewe. Albei die skoue kan nie plaasvind soos oorspronklik geadverteer nie. Die uitslag van hierdie besprekings sal op 24 Julie gekommunikeer word. Indien regeringsregulasies met betrekking tot die Covid-19-pandemie dit toelaat en die uitstel van hierdie twee gebeure moontlik is, sal die datums van die skoue oorweeg word vanaf 24-26 September vir NAMPO Kaap en 29-31 Oktober vir NAMPO Alfa Lewendehawe, Jag en Buitelewe.





