Ekonomiese herstel lank en moeilik, sê president
President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê dat Suid-Afrika se pad na ekonomiese herstel lank en moeilik sal wees maar dat dit nou moet begin. Hy het verwys na sy staatsrede in Februarie toe hy gesê het daar is drie dinge waarop gefokus sal moet word – fundamentele faktore, nuwe bronne van …

President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê dat Suid-Afrika se pad na ekonomiese herstel lank en moeilik sal wees maar dat dit nou moet begin.
Hy het verwys na sy staatsrede in Februarie toe hy gesê het daar is drie dinge waarop gefokus sal moet word – fundamentele faktore, nuwe bronne van groei en aksies ondersteun deur ‘n doeltreffende staat.
Hy sê daar is ‘n drastiese afname in ekonomiese aktiwiteit en vertroue in die ekonomie, en dat ten spyte van die reddingsboeie wat die regering uitgegooi het midde van die Covid-19 pandemie, is daar ondernemings wat hul deure moes sluit en talle werksgeleenthede wat verlore is.
Die president het egter geskryf dat ten spyte van die uitdagings wat Suid-Afrika tans beleef, almal moet saamwerk om eknomiese waardighede vir alle Suid-Afrikaners te verseker.
Hy sê voorstelle vir fundamentele faktore wat aangespreek moet word, is betroubare energiebronne, toegang tot breëband digitale verbindings, betroubare hawens en ‘n doeltreffende vervoerstelsel.
President Ramaphosa sê daar moet met maatskaplike vennote saamgewerk word om die pas van inwerkingstelling te versnel om die grondslag van die ekonomie te herbou.
Verder skryf hy plaaslike vervaardigers en nuwe bronne van groei vir die ekonomie moet bymekaar gebring word.
“Ons moet die geleentheid gebruik om ‘n groener eknomie te skep”, en dan skryf hy dat gekyk moet word na velde soos hibriede motors, brandstofselle, opgaarbatterye en avalverdeling.
Ekonomiese herstel moet egter gelei word deur infrastruktuurontwikkeling en instandhouding het die president gesê
Hy het ook weer die belangrikheid van werkskepping en behoud van werksgeleenthede beklemtoon as deel van die ekonomiese herstelprogramme.





