Die Nampo/Alfa Lewendehawe, Jag- en Buitelewe Ekspo wat van 24-26 September vir die eerste keer op Nampo Park net buite Bothaville gehou sou word, moes ook nou gekanselleer word weens die Covid-19 pandemie.
Parysenaars sal die groot sukses van dié ekspo onthou wat vorige jare by die AfriDome in Parys gehou is.
In Oktober 2019 is aangekondig dat Parys nie in 2020 die gasdorp sal wees vir die baie gewilde Alfa Ekspo nie, toe besluit is dat daar vlerke gesprei moet word om ook die jag- en buitelewe komponent by die ekspo in te sluit.
Te midde van die huidige omstandighede sal uitstallers wat deel is van die skou, egter steeds die geleentheid gebied word om met die landbou industrie te kan sake doen, en is die Nampo Virtuele Skou gevestig wat van 9 tot 12 September vanjaar sal plaasvind.
Uitstallers kan hul webblad, https://nampovirtual.co.za/ besoek, of die Nampo-kantoor kontak.
Deel van die skou se DNA was nog altyd die lewendehawe projekte wat deur die Alfa-span gekoördineer en aangebied word.
Goeie nuus is dat die meeste van die lewendehawe projekte steeds voortgaan – in ‘n aanlyn formaat, wat elkeen, op sy eie, reg sal laat geskied.
Die projekte sluit al die prestasie-kampioenskappe, kompetisies vir al die produksie spesies, veilings en verskillende werkswinkels in.
Ook is daar ‘n paar SA-eerstes op die program soos ‘n aanlyn kleinveeskou waaraan 10 verskillende kleinvee-rasse deelneem, en ‘n nasionale kleinvee-groeitoets.
Dan is daar ook ‘n aanlyn interras vleisbeesskou en ‘n landbouskool webinaar. Al die projekte se deelname en resultate vind hoofsaaklik van Oktober tot November plaas. Kyk hierna op https://nampoalfa.co.za/
Die ongunstige globale omstandighede het verskeie uitdagings vir skoue soos dié gebied, maar binne die landbou-omgewing is dit belangrik om aanpasbaar te wees, en nuwe geleenthede te skep, is gesê tydens die aankondiging dat die ekspo gekanselleer, en aanlyn aangebied sal word.
“Die Nampo/Alfa-span is vol vertroue dat die uitstallers steeds geleenthede tydens die Nampo Virtuele Skou kan benut, en dat lewendehawe-projek deelnemers, produsente en borge deur Alfa gekoördineer, steeds die erkenning en prestige sal geniet wat die projekte histories gebied het.”





