
Eskom het onder eed bevestig dat hy besig is met herstelwerk aan sy tweede transformator in die Eskom-substasie in Parys. Dit nadat die kragreus eers volstrek geweier het, totdat Ngwathe sy skuld aan Eskom betaal. Die weiering het veroorsaak dat Eskom sedert Junie vanjaar sy enkele werkende transformator “beskerm” het teen oorlading deur eenvoudig die dorp se kragtoevoer te sny sou Ngwathe die 20MVA wat die werkende transformator voorsien, oorskry het. Dit het die munisipaliteit genoodsaak om self kragbeheer toe te pas deur gedwonge rotasie beurtkrag, met ernstige gevolge vir die dorp se sakelui en inwoners.
In samesprekings Woensdag 11 November, tussen Eskom se regspan, en die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskapsaksie (Vaal River Development Association) se adv. Danie Wijnbeek en Lou van Wyk as opdraggewende prokureur, is bevestig dat Eskom voortgaan in oorleg met die Millar bevel, ondanks die appèl. Die saak is die week weer op die spits gedryf na nog soortgelyke aansoeke die week op die rol is, en Eskom die Adjunk Regter President versoek het om saakbestuur toe te pas. Die uitgangspunte is dat Eskom nie elektrisiteitsvoorsieningsbeperkings sal toepas nie, en wel voortgaan met die herstel van die transformator hangende die appélhof beslissing in die saak tussen Eskom en die Vaal River Development Association en Lekwa Belastingbetalersvereniging.
Die partye is dit egter eens dat Eskom by wyse van aansoeke kan voortgaan om die wanbetalende munisipaliteite tot orde te roep. Die Lekwa Belastingbetalersvereniging se saak is vroeër na die Hoë Hof gebring op dieselfde grondslag as Parys se saak teen Eskom, die Ngwathe Munisipaliteit, Nersa, die Vrystaatse premier, die LUR vir CoGTA en die minister van energiesake, om Eskom te dwing om gedwonge beurtkrag te staak.
Parys se kragstryd
Die gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) vir Parys is tien jaar laas aangepas, en hoewel Ngwathe aansoek gedoen het om verhoging van die NMD, het Eskom tot nou toe aangedui dat die verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en die kragreus nie tevrede is dat Ngwathe hou by sy destydse aanvaarde afbetalingsplan nie. Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld moet betaal wat alreeds R1,3 miljard beloop het in Augustus, en daar in die verlede deur hofbeslissings verhoed is dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie.
Tot Mei vanjaar toe oorlading by die beheerkamer van die Eskom-substasie in Parys groot skade veroorsaak het en Eskom voet neergesit het. Intussen het Ngwathe volgehou dat hy wel hou by die afbetalingsplan aan Eskom. ‘n Gewysigde afbetaalplan is egter in Desember 2019 deur Ngwathe se hoof finansiële beampte aan Eskom gestuur wat nie deur Eskom afgekeur, maar ook nie goedgekeur is nie. Gevolglik het Ngwathe Eskom se swye as aanvaarding van die plan vertolk, en dienooreenkomstig sy betaling gemaak. Vandaar Eskom se onversetlike houding dat Ngwathe nie hou by die oorspronklike afbetaalplan nie.
Eskom het na die vroeëre interim hofbevel van regter Anthony Millar wat Eskom verbied het om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas, en die kragreus aangesê is om binne 5 dae die transformator te herstel, aansoek om verlof tot appél teen die hofbevel, ingedien. Die saak is daarna na die appélhof verwys vir beslissing, maar kan dit nog ’n baie lang en duur hofstryd wees vir die betrokke partye. Eskom bevind hom al meer in lang hofgedinge om munisipaliteite te kry om hul agterstallige skuld te betaal.
Van hierdie sake sal nou eers oorstaan totdat dié appélsaak aangehoor is. Eskom het vroeër reeds in ‘n verklaring gesê dat hy nie langer kan pa staan vir wanbetalende munisipaliteite nie.




