

André Coetsee, tesourier van die Memorable Order of Tin Hats (M.O.T.H) Barrage Shellhole in Parys, het die groot eer te beurt geval om as Old Bill van die Orde vir 2020/21 aangewys te word tydens die jaarlikse samekoms van die uitvoerende bestuur van die Moths. Hierdie ere-posisie is nog nooit voorheen aan ‘n lid van die Barrage Shellhole toegeken nie, en is die hoogste erkenning wat ‘n lid van die Orde te beurt kan val. Slegs vier Vrystaatste lede het al dié eer gehad.
Die toekenning word gemaak op grond van jou betrokkenheid en bydrae tot die organisasie waarvan André reeds die afgelope 22 jaar deel is. Twintig jaar hiervan was op bestuursvlak. André se besondere passie vir die verdienstelike werk wat deur hierdie organisasie onder sy lede van dienende en oudgediende manne en vroue gedoen word wat aktief deelgeneem het aan ‘n oorlogstoneel, insluitend ons grensoorloë, spreek uit die toewyding waarmee hy oor jare ‘n verskil gemaak het aan die bestuur van die Orde en sy werksaamhede.
Só is hy en ander komiteelede die afgelope twee jaar al besig met ’n herstruktureringsprogram vir die organisasie omdat die organisasie se lede ouer word en veranderende omstandighede rondom oorloë ‘n ander model vereis het vir lede werwing. Hierbenewens het André in 2014 die groot taak op hom geneem om ‘n elektroniese databasis vir lede daar te stel, en het dit aanleiding gegee tot die identifisering van die behoefte tot herstrukturering.
André is ‘n rekenaarprogrammeerder van beroep. Albei sy kinders het op Parys skoolgegaan en die oudste van sy 3 kleinseuns sal ook in 2021 sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Parys begin.
André is sedert 1995 nou betrokke by die ontwikkeling van die Vaal de Grace landgoed op sy pa, Lukie Coetsee, se eiendom, bekend as Grooteiland.
Die jong André het in 1975 by die Weermag se 2 Spesiale Bataljon aangemeld vir sy basiese militêre opleiding.
Sy loopbaan het hom na die reserwemag gelei waar hy tot 1991 was. Gedurende hierdie tyd het hy by die Randburg Kommando, Parys Kommando en Randse Ligte Infanterie diens gedoen, waartydens hy ook op die Angolese grens geveg het. Hy sluit in 1998 aan by die Barrage Shellhole in Parys en het van 2000 tot 2004 as Old Bill van die Barrage Shellhole gedien en van 2003 tot 2006 ook in die Orde se provinsiale bestuur.
In 2006 word hy tesourier van die Barrage Shellhole – ‘n portefeulje wat hy steeds beklee. Van 2008 tot 2009 dien hy as provinsiale adjunk Old Bill en is hy in 2004 vereer met ’n Sertifikaat van Kameraadskap, en in 2007 met ‘n Sertifikaat vir Uitstaande diens. In 2011 word hy verkies tot die Orde se Nasionale Uitvoerende Raad met die portefeulje as nasionale werwingsoffisier. Dit is in hierdie tyd dat hy oor die land begin reis het om als in plek te kry vir die elektroniese databasis.
Sy uitstaande vermoë as analitiese denker en die baanbrekerswerk vir innovering en vernuwing in die organisasie herinner aan die woorde van Jan F.E. Cilliers oor generaal Christiaan de Wet – “Stil, broers, daar gaan ‘n man verby. Daar is maar net één soos hy; bekyk hom goed.”




