NewsNews

Agterstallige skuld – meer tyd

Agterstallige skuld - meer tyd

 

 

Inwoners met agterstallige munisipale rekeninge in Ngwathe kry ‘n ekstra maand amnestie. Só het Ngwathe se munisipale raad verlede Donderdag besluit. Die amnestie sal nou tot 28 Februarie beskikbaar bly. Dis uitgebrei vir boere, wat ook reëlings kan tref vir agterstallige eiendomsbelasting. Gedurende die amnestietydperk word die helfte van ‘n dorpsverbruiker se agterstallige diensterekenings op versoek afgeskryf, mits hy die oorblywende helfte onmiddellik betaal. Hy moet ook dan sy maandelikse diensterekening nougeset en ten volle gedurende die daaropvolgende twaalf maande betaal. Sou hy dit nie doen nie, verval die voorwaardelike afskrywing, en die agterstallige skuld is weer ten volle verskuldig. As iemand die helfte van sy skuld nie op een slag kan betaal nie bestaan daar ‘n alternatief.

Jy kan versoek dat die helfte van jou diensteskuld wat ouer as twee jaar is, afgeskryf word. Jy moet dan ooreenkom om jou totale agterstallige diensteskuld (dit wil sê die oorblywende helfte ouer as twee jaar, plus alle agterstallige diensteskuld jonger as twee jaar) in 24 gelyke maandelikse paaiemente af te betaal. Jy moet ook onderneem om jou maandelikse rekening stiptelik en ten volle tydens die daaropvolgende 12 maande te betaal. Solank die afbetalingsooreenkoms nagekom word is geen rente op die agterstallige bedrag betaalbaar nie. Sou die verbruiker egter enige voorwaarde verbreek, word die afskrywings gekanselleer, en jy skuld weer die volle bedrag, met rente ook. “Februarie is die laaste kans vir afslag,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. “Vanaf 1 Maart gaan Ngwathe onmiddellik sterk optree teen agterstalliges.”

Hy sê optrede is nodig, want die munisipaliteit se geldsake bly beroerd. Volgens Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe, moet verbruikers veral kennis neem dat hierdie amnestie die enigste maatreël is waarby ook erfbelasting ingesluit is. Die skuldverjaringstermyn van toepassing op belastings is 30 jaar en dit word gevolglik nie normaalweg in ag geneem wanneer diensteskulde, wat na drie jaar verjaar, afgeskryf of kwytgeskeld word nie,” sê rdl. Van der Merwe. “Hierdie is gevolglik ‘n unieke geleentheid vir plaaseienaars om ou skuld afgeskryf te kry,” sê hy.

Aansoekvorms is by alle munisipale kantore in die Ngwathe dorpe (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville) beskikbaar of kan by rdl. Van der Merwe per e-pos aangevra word by merlaw@phillaw.co.za. Beide raadslede het ‘n beroep op inwoners gedoen om van die amnestie verlengingsperiode gebruik te maak.    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button