Daar word ook nou ’n beloning van R20 000 aangebied vir enige inligting wat kan lei tot die suksesvolle opsporing van die beeld en/of die aankeer van die diewe.

Die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) gaan genl. Koos de la Rey se gesteelde bronsbeeld vervang en die gevandaliseerde graf herstel. Daar word ook nou ’n beloning van R20 000 aangebied vir enige inligting wat kan lei tot die suksesvolle opsporing van die De la Rey-beeld en/of die aankeer van die diewe. Die aankondiging is deur die FAK gemaak nadat die graf van genl. Koos de la Rey in die Lichtenburg-begraafplaas in Noordwes oor die naweek gevandaliseer en sy bronsbeeld, wat op sy graf rus, gesteel is.

De la Rey is een van die mees gevierde Boeregeneraals, wie se krygsvernuf hom as die Leeu van Wes-Transvaal bekend laat word het. Generaal Koos de la Rey het regdeur sy lewe ’n groot bydrae gelewer, sê die FAK. Die FAK gaan die gesteelde bronsbeeld, wat deur Fanie Eloff in 1917 gemaak is, met “’n onvernietigbare replika” vervang nes dié organisasie in 2018 gedoen het toe pres. Paul Kruger se graf in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria gevandaliseer is, en die borsbeeld op sy graf vernietig is. Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, sal nes hy destyds ’n nuwe beeld van Kruger gemaak en dié beskadigde beeld reggemaak het, dié replika van De la Rey maak. Oor De la Rey Jacobus Hercules de la Rey is in 1847 in die Winburg-distrik in die Vrystaat gebore. As jong man het hy nie dadelik gaan boer nie, maar eers ’n transportryer in en om die diamantvelde geword. Die Anglo-Boereoorlog was die periode waartydens De la Rey sy naam gemaak het. Vroeg in die oorlog het sy een seun naby Magersfontein gesneuwel. Ná die oorlog was De la Rey een van die mees gerespekteerde Boereleiers. Hy het aktief aan die heropbou van sy volk deelgeneem en was ’n lid van die Verteenwoordigende Regering wat die nuwe kolonie in 1904 van Brittanje ontvang het. Met Uniewording in 1910 was hy een van die oprigters van die Suid-Afrikaanse Party, die party wat deur die meeste Afrikaners gesteun is. Hoewel verskille met partyleiers soos generaals Louis Botha en Jan Smuts al vroeër geblyk het, was hy een van hulle lojaalste ondersteuners. Hy is in die Senaat van die Unie van Suid-Afrika aangestel, waarvan hy tot sy dood ’n lid was. Toe De la Rey in 1914 dood is, kon sy politieke loopbaan nog vele hoogtepunte opgelewer het. Hy is deur die polisie doodgeskiet toe sy motor deur ’n padblokkade gejaag het. Die polisie het die fout gemaak om te dink dat dit die motor van ’n berugte rowerbende was. Mense wat wil bydra tot die FAK-Geskiedenisfonds kan die woord GENERAAL SMS na 45730 (R1,50 per SMS) 



