News

Ereveldwagters bou vlermuishotelle

Die Sanpark Ereveldwagters van die Noordwesstreek (Bakenveld) het onlangs hulle kragte saamgespan om vlermuishotelle te bou. Met dié projek samel hulle nie net fondse in vir bewaringsprojekte by Sanparke nie, maar wil hulle graag die publiek van vlermuise se belangrike rol in die ekosisteem bewus maak. Die meeste van ons ken vlermuise as daardie lastige …

Die Sanpark Ereveldwagters van die Noordwesstreek (Bakenveld) het onlangs hulle kragte saamgespan om vlermuishotelle te bou. Met dié projek samel hulle nie net fondse in vir bewaringsprojekte by Sanparke nie, maar wil hulle graag die publiek van vlermuise se belangrike rol in die ekosisteem bewus maak.

Die meeste van ons ken vlermuise as daardie lastige klein vlieënde soogdiertjies wat hul intrek in huise se dakke neem. Hulle kan ‘n pes wees wanneer jy graag ‘n netjiese gastehuis of vakansieoord bestuur en alewig vlermuismis en -urine op ‘n stoep of teen mure moet skoonmaak.

Mense is nie juis lief vir vlermuise nie. Behalwe vir hul lastige toiletgewoontes en lelike gevreetjies, help dit ook nie dat daar allerhande mites oor hulle versprei word nie.

Ina Meyer, voorsitter van die Bakenveld Ereveldwagters, sê dit is sommer nonsens dat hulle bloed drink en graag in jou hare vlieg om daar nes te maak. “Vlermuise hou insekplae in toom. Een vlermuis kan tot die helfte van sy liggaamsgewig aan muskiete per nag vreet. Hulle vreet ook vlieë, besies en kakkerlakke. Hulle bestuif bome, blomme en kaktusse en versprei sade. Die huisvlermuis kan tot 16 jaar oud word,” vertel sy.

Ina Meyer, voorsitter van die Bakenveld Ereveldwagters van Sanparke, met ‘n vlermuishotel wat hulle teen R350 verkoop. Foto: Venessa van der Westhuizen

Vlermuishotelle bied ‘n veilige skuiling vir vlermuise deur die dag en nag. Die beste manier om die vlermuise uit jou huis te kry, is om vir hulle buite akkommodasie op te rig en dan die ingang na die dak of plek waar hulle nie mag inkom nie, te seël.

Die Ereveldwagters se vlermuishotel bestaan uit drie lae planke wat 2cm uitmekaar vasgespyker is. Die vlermuise hou van nou openinge en kruip daarin op. Dit is groen geverf om saam te smelt in die tuin. Een so ‘n hotel kan 20-30 vlermuise huisves en moet verkieslik 2,5 meter hoog aan ‘n paal vasgesit word. “Vlermuise kan nie opstyg van die grond af nie. Hulle val gewoonlik uit ‘n dak of hoë skeure in ‘n grot of rots en sprei dan hulle vlerke terwyl hulle val. Wanneer jy ‘n lewendige vlermuis op die grond kry, kan jy dit net in die lug gooi. So help jy dit weer om te vlieg,” sê Ina.

Sy benadruk dat vlermuise van hitte hou, daarom moet die vlermuishotel verkieslik in die son opgesit word sodat dit ten minste namiddag son kry en hulle warm kan word vir die nag. Vlermuise is nou ‘n bedreigde spesie en dit is onwettig om hulle dood te maak. Ina raai aan dat jy ‘n vlermuishotel teen R350 elk koop. Skakel haar by 081 853 0384 om jou bestelling te plaas.

  • Daar is twee groepe vlermuise, naamlik die Magachiroptera wat die vrugtevlermuis is en die Microchiroptera wat die insektivore is. Die vrugtevlermuise gebruik nie ultrasoniese klank en radar nie, terwyl die insektivore almal radar en ultrasoniese klank gebruik om hulle rigting te bepaal, asook om hul prooi op te spoor en te vang.

Ereveldwagters bou vlermuishotelle

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button