

Die aantal positiewe Covid-19 gevalle in Parys het die afgelope week nog skerp bly styg en is dié dorp naas Sasolburg en Kroonstad steeds die dorpe in die Fezile Dabi-streek met die hoogste aantal nuwe positiewe gevalle wat daagliks aangemeld word.
Sondag 27 Junie is 14 nuwe gevalle in Parys aangemeld, en Saterdag 19 nuwe gevalle (die hoogste vir die week vir Parys) , teenoor Kroonstad se 14 Sondag en 22 Saterdag, en Sasolburg se 59 nuwe gevalle Sondag en 62 gevalle Saterdag.

Vredefort het Saterdag net 1 nuwe geval gehad en geen Sondag, Koppies 2 en geen Sondag, Heilbron 2 Saterdag en 5 Sondag, en Edenville geen nuwe gevalle vir die hele naweek nie. Vir die hele distrik was daar ’n totaal van 117 nuwe gevalle Sondag, 130 nuwe gevalle Saterdag, en 90 gevalle in totaal vir die distrik op Vrydag 25 Junie In die land was daar teen die naweek nog 152 013 aktiewe gevalle.
Van die 1 913 861 gevalle het 1 702070 herstel, en was daar in totaal nou reeds 59 778 sterftes. Die afgelope naweek het die totale aantal inentings in die land gestaan op 4,47%.




