NewsNews

Herrie oor ‘lekkerr los’ briefies

Herrie oor ‘lekkerr los’ briefies

Potchefstroom Herald berig

Potchefstroom is aan die gons nadat Rapport Sondag (4 Julie) oor ‘n laerskoolleerling wie se ma  “geknak” het en by ‘n plaaslike laerskool briewe deur die skoolheining gegooi het, berig het.

Die dorp is aan die gons nadat Rapport Sondag (4 Julie) berig het oor ‘n laerskoolleerling wie se ma  “geknak” het en by ‘n plaaslike laerskool briewe deur die skoolheining gegooi het.

In die briewe het sy geskryf “vir ‘n lekker vry, bel vir …” met ‘n dogter se naam en selfoonnommer daarby. Die ouers van die dogter het ‘n saak van laster by die polisie gelê.

Fotostate van dié briefie is deur die skoolheining gegooi. Foto: Verskaf

Die Herald het probeer om met al die betrokke partye te praat wat deur die voorval geraak word, maar kon nie kommentaar van die ma wat die briewe geskryf het, kry nie. Sy het gesê dat sy op versoek van haar prokureur nie met die media mag praat nie.

Om die identiteit van die minderjarige kinders wat betrokke is, te beskerm, word skuilname in die res van die berig gebruik en die skool se naam nie genoem nie.

Andrea*, is baie onsteld oor die optrede van Susan* wat die briefies deur die heining van die skool gegooi het en daardeur haar dogter se reputasie so probeer beskadig het. Susan* het later erken dat sy ‘n briefie getik, fotostate daarvan gemaak het en dit deur die skoolheining gegooi het.

Nadat leerlinge die briefies bymekaar gemaak en by die kantoor ingehandig het, het die hoof vir Andrea* en haar man na die skool laat kom.

“Dit is niks anders as boeliegedrag nie. Ek kon nie glo ‘n volwassene tree so op nie”, het Andrea* aan die Herald gesê. “Ons het die briewe by die skool gaan haal en gehoor dat ‘n bloemiste ‘n pakkie vroeër ook aan my dogter afgelewer het”, sê Andrea*. Rapport het berig dat die pakkie versier was met sonneblomme. Binne die pakkie was ‘n sjokelade en ‘n tennisbal met ‘n nota wat lees “Jy het gesê jy wil met my speel.”

Sy en haar man het aanvanklik nie geweet wie die persent en briefies by die skool afgelaai het nie, en was onsteld toe hulle hoor die leerders wat die briefies opgetel het, het gesien ‘n “tannie” het die briefies deur die heining gegooi. Dis toe dat Andrea*-hulle die saak by die polisie aanhangig gemaak het.

Andrea* se man het later ‘n oproep van Susan* ontvang wie hom by die polisiekantoor wou ontmoet. Sy het gehuil en teenoor hom erken dat sy die briewe geskryf het.  Sy het ook ‘n brief aan hom en Andrea* geskryf waarin sy om verskoning gevra het.

Susan* het vir die skool gesê dat sy die pakkie gestuur het, maar dat dit nie van haar af gekom het nie.  Sy het dit namens ‘n seun afgegee wat te skaam was om dit self vir Andrea* se dogter te gee.

Volgens  Andrea* het Susan* kwade gevoelens omdat haar dogter se kêrel vroeër met Susan* se dogter uitgegaan het.  Susan* was bekommerd oor haar dogter wat glo die afgelope drie maande in ‘n ‘spiraal van depressie’ verval het – toevallig die laaste drie maande wat Andrea* se dogter en haar nuwe kêrel uitgaan. Andrea* het die aanname gemaak dat Susan* kwaad is dat haar dogter se hart gebreek is.

Maar die kêrel se ma, Wanda*, sê egter dit is nie die geval nie. Volgens haar het Susan* se dogter depressief begin word omdat Andrea* se dogter haar begin boelie het nadat sy met haar nuwe kêrel (Wanda* se seun) begin uitgaan het.

Andrea* se dogter het nie daarvan gehou as haar kêrel met sy vorige meisie, Susan* se dogter, praat nie. Wanda* sê daar was geen kwade gevoelens tussen haar seun en sy vorige meisie toe hulle nie meer saam was nie. “Susan* se dogter was glad nie daaroor depressief nie. Andrea* se dogter het haar probeer jaloers maak deur Tik-Tok video’s aan Susan* se dogter te stuur waarin sy foto’s van haar en haar nuwe kêrel post – so asof sy hulle verhouding teenoor Susan* se dogter probeer invryf het,” verduidelik Wanda*. Sy het ook foto’s met dubbelsinnige boodskappe aan Susan* se dogter gestuur.

‘n Tipiese dubbelsinnige boodskap wat Andrea* se dogter aan Susan* se dogter gestuur het. Foto: Verskaf

Sy sê die tipe videos en boodskappe is gereeld aan Susan* se dogter gestuur wat haar later baie depressief begin maak het. Andrea* het met haar onderhoud aan die Herald weer gesê dat sy nie bewus was van enige kwade gevoelens tussen die meisies nie.

“Ek het met Susan* gesels toe dit aan die lig kom dat sy die briefies deur die skool se heining gegooi het. Ek kon dit nie verstaan nie, want dit is glad nie in haar aard nie. Haar woorde aan my was ‘Ek wou gehad het sy (Andrea* se dogter) moet net een dag voel hoe my kind voel,” het Wanda* gesê.

Volgens Wanda* was Susan* baie ontsteld omdat haar dogter so by die skool geboelie word.”

“Wat Susan* gedoen het is baie verkeerd, maar die storie gaan nie hier oor ‘n liefdesdriehoek nie,” sê Wanda* .

Kaptein Aafje Bothma, polisiewoordvoerder in die Noordwes, het bevestig die saak word tans ondersoek maar dat niemand nog aangekla is nie.

*Skuilname word gebruik om die identiteit van minderjarige kinders te beskerm.

 

https://potchefstroomherald.co.za/89685/herrie-oor-lekkerr-los-briefies/

Related Articles

Back to top button