Vrugtestalletjie: Só ’n dak kan mos nie, meen raadslede
Vrugtestalletjie: Só ’n dak kan mos nie, meen raadslede
Hannes de Wet, ‘n jarelange inwoner van Parys, was destyds die boubeheerbeampte by die plaaslike munisipaliteit toe die stalletjies wat mettertyd De Pontes Vrugtestal sou word, gerealiseer het.
Die berig oor die De Pontes Vrugtestalletjie in die Gazette van 5 Augustus, het hom ver laat terugdink oor die ontstaan van die vrugtestalletjie lank voor die N1 verbypad bestaan het, vertel Hannes. Hy onthou dat die idee vir ‘n struktuur waar die publiek van Parys hul groente en vrugte kon verkoop, eintlik gekom het van rdl. Boet van Nieuwenhuisen. Daardie jare was vrugte in oorvloed omdat die mark toe nie bestaan het nie, en talle Parysenaars nog kon spog met vrugteboorde en groentetuine op ruim erwe. Leiwater het natuurlik ook dié ywerige tuiniers gehelp.
Die idee rondom die stalletjies is later selfs uitgebrei om die reisende toeris in gedagte te hou, en só het dit gekom dat die raadsbesluit om die fasiliteit daar te stel, geneem is.
Daar moes ‘n geskikte terrein gekry word, en die struktuur ontwerp word waar inwoners hul produkte kon verkoop, met voorsiening vir ablusiegeriewe en braaigeriewe vir verbygangers. Die raad se besluite is na die ingenieursafdeling verwys vir uitvoering, en só het die idee op Hannes se tafel beland.
Na verskeie ontwerpe met kostes, is die struktuur bestaande uit drie enkel vertrekke weerskante van die deurgang na die ablusiegeriewe buite, asook braaigeriewe voor die gebou, goedgekeur.
Kwotasies is gekry, en toe daar eers gebou is, was daar gereelde besoeke van raadslede wat bekommerd was oor hoe die dak se konstruksie dan nou sou pas omdat die gebou in ‘n halfsirkel gebou is.
Hannes het self onderneem om die dakkonstruksie met die hulp van ‘n werker met die naam van “Yster” te doen. En vandag staan die gebou steeds – dakvrese ten spyt.
* Hannes de Wet het destyds op 1 Julie 1969 by die munisipaliteit diens aanvaar waar hy tot 1986 gewerk het. Daarna het hy weer van 1994 tot 2008 vir die munisipaliteit gewerk.
As boubeheerbeampte het hy heel gepas die bynaam, “Breek en Bou” gehad.
Van die raad se bouprojekte waarby hy betrokke was, was onder meer die Schonkenville laerskool, aanbouing by die stadsaal, die Mimosa kantoor en ingangshek, die rolbalklub se klubhuis, die krieket klubhuis, jukskei klubhuis, die klubhuis van die vliegklub, uitbreiding van die kanoklub se klubhuis, die Kommando-gebou, die brandweer woonstelle, Phehellang skool, die Mosepedi-saal, Selogilwe skool, Botsjhabatsatsi skool, uitbreiding van die Mimosa restaurant en die vrugtestalletjies.




