
Twee bejaarde vroue van Parys het vandeesweek met groot dankbaarheid vertel hoe twee speurders van Parys tot hul redding gekom het verlede Donderdag toe hulle motorprobleme by die stopteken by die Palm Court Hotel in Parys gekry het, Die 86-jarige Hanna de Jager het aan Gazette vertel dat sy en haar buurvrou, Petro de Lange (80), die oggend Checkers toe was. By die stopteken het haar buurvrou se motor se koppelaarkabel gebreek, en daar sit hulle gestrand met die verkeer wat agter hulle ophoop.
Speur a.o Jaco Venter en a.o. Brian Janse van Rensburg het in die verbygaan die twee vroue se nood gesien en sonder huiwering gestop om te help. “Ons het nie geweet wat om te doen nie. Dit was net die Here se genade dat hulle oor ons pad gestuur is,” sê Hanna.
Nie net het hulle gehelp om die motor uit die pad uit te kry nie, maar ook gereedskap en die regte part gaan kry en gehelp om die kabel te herstel sodat die twee vroue veilig by die huis kon kom. Hanna vertel dat die twee polisiebeamptes selfs nadat die motor herstel is en hulle weer op die pad was, weer langs die pad by hulle gestop toe hulle stilgehou het by Avbob, om doodseker te maak dat alles reg was.
Gazette het einde September ook berig van ‘n voorval op die N1 waar sers. Keyser en knst. Booi van Parys SAPD tydens hul hoofwegpatrollie, ‘n inwoner van Parys, mnr. Gerrie van Niekerk, en sy suster, gehelp het, nadat hulle ook met motorprobleme langs die pad gestrand was. Ook hulle het toegesien dat Gerrie en sy suster veilig by die huis kon kom deur agter hulle aan te ry tot in Parys.
Na die voorval het verskeie lesers kommentaar op die berig gelewer en getuig van hoe hulle al deur polisielede, maar ook verkeersbeamptes gehelp is wat uit hul pad gegaan het om te help. Hiermee dan ‘n woord van dank aan elke polisieman- of vrou asook elke verkeersbeampte wat sonder om te huiwer nie skroom om die ekstra myl te loop nie. Voorvalle soos hierdie getuig van die trots waarmee hierdie beamptes hulle werk doen en dikwels veel meer as wat van hulle verwag word, veral in ‘n tyd waar baie motoriste weens misdaad vrees om gestrand langs die pad te staan.
Ons salueer julle!




