Menige Parysenaar sal onthou hoe Gert Botha oor jare met sy trekker die dorpstuine bewerk het waar Goue Jare en die Sonskyn Aftreeoord vandag is. Daar is nagte om gesit en groente geskil en verpak wat aan kliënte en besighede verkoop is. Selfs vandag nog sien jy die netjiese groentetuin in die erf. Sy trots.
Ná byna 50 jaar in Parys, groet Gert en Ethel Botha, twee staatmakers in die dorp, wanneer hulle Die Wilgers in Pretoria hul nuwe tuiste sal maak.
‘n Opwindende nuwe fase van hul lewe, met Gert wat saam met sy seuns, Mike en Theuns, betrokke sal wees by hul onderneming, TMB Acoustics, wat spesialiseer in die akoestiese behandeling van onder meer ateljees en kantore.
Gert het in 1975 sy eerste onderwyspos hier by Parys Primêre skool aanvaar ná voltooiing van sy onderwysstudies aan die Onderwyskollege in Bloemfontein. Daardie jare het hy vir die standerd vier-leerders Afrikaans en geskiedenis gegee, en na skool was hy op die tennisbaan en sportveld besig met tennis, rugby en atletiekafrigting.
Ethel se ouers het in 1961 Parys toe getrek en het sy hier haar skoolloopbaan voltooi. Daarna is sy na die Potchefstroomse Onderwyskollege. Haar onderwysloopbaan het in die destydse Transvaal begin. Een skoolvakansie in 1976, toe sy by haar ouers kom kuier het, het sy en haar broer die Kerk Jeug Aksie (KJA) byeenkoms gaan bywoon.
Gert was die voorsitter van die KJA, en net hier het die liefde vir die twee begin blom. ‘n Jaar later is hulle getroud, en aanvaar sy ‘n pos by die destydse National Bolts in Parys se nywerheidsgebied.
Later jare het sy ook by Taljaardt Apteek gewerk, vir 12 jaar as sekretaresse by Blikoortjies, en die afgelope 13 jaar by drs. Bell en Gouws as voorrade klerk. Raakvat hande. Gert was oor die jare wat hulle in die dorp was, self ‘n kranige sportman wat vir die dorp se rugbyklub gespeel het en tot 2014 ook vir die dorp se tennisklub, waar hy vir jare in die bestuur gedien het. Hy was vir nagenoeg tien jaar ook voorsitter van die tennisklub.
Einde 2005 het hy as onderwyser by Parys Primêr afgetree, maar nooit gaan stilsit nie. Hy het hom sedertdien met nutstake besig gehou, en ook ‘n besondere bydrae gelewer tot die barmhartigheidsdiens van die NG Oos-gemeente. ‘n Taak wat hy vir 15 jaar met groot toewyding verrig het.
Vir Gert en Ethel was dit nooit vreemd om dag of nag daar te wees vir iemand in nood nie. Hulle was albei eers in die Suid-gemeente en daarna ook in die Oos-gemeente betrokke. Sy by die Kinderkrans, en hy as kategese-voorsitter by die Suid-gemeente. Beide was ook kerkraadslede.
Parys sal hierdie twee gesigte mis wie se hande reggestaan het om te werk om ‘n verskil te maak, waar hul ook al gekom het.






