8-Silinders brul in dié spog-ysterperd

8-Silinders brul in dié spog-ysterperd

 

 

Baie dink, baie bid en drie jaar se harde werk. Trots stoot die 71-jarige Ben Herbst van Villa Riviera die spoggerige rooi ysterperd uit sy motorhuis. Hy kry sy sit op die driewielfiets en vertel trots van die Toyota Lexus V8-enjin en Jaquar ‘Rear End dif’ waarmee dié ysterperd brul.
Daar is nie ‘n ding aan dié motorfiets wat hy nie self gemaak het nie. Van die presiese leerwerk op die handvatsels, tot die agterligte – twee kopbene – eers uit gips gemaak, toe die rubber gietvorms gemaak en uiteindelik die twee veselglas agterligte opgesit – so uniek soos alles aan hierdie driewiel motorfiets wat Ben van die grond af gebou het.
Jy sien die perfeksionisme van ‘n man wat kan werk met sy hande.

 

Ben Herbst op die spoggerige driewiel motorfiets wat hy gebou het. Van die verf tot die leerwerk, die unieke voetrus en agterligte – alles self gemaak.

 

“Mense ken my as ‘n stil persoon wat alles kan doen,” gesels hy. Vroeg al het hy begin met die stokperdjie. By die 15 motors opgebou of verander oor die jare. Selfs ‘n paar trapfietse en twee-wiel motorfietse aanmekaar gesit.
Hy wil sy drie-spoed rooi ysterperd met die outomatiese ‘overdrive’ Staffie doop. As hy die papierwerk reg het om hom op die pad te kry, wil hy saam met sy vrou, Claudia, die langpad vat – St Lucia toe en dan, al met die kus langs terug met die dreuning van ‘n 8-silinder se krag onder hulle, en die wind in hul hare.

Dié driewiel motorfiets was ook onlangs Ben se kleinkind, Shaun, se ryding vir sy matriekafskeid.
In die motorhuis geraam hang die fotostorie van Ben se handewerk oor jare. Sy 32 Ford Flat Fender en die Suid-Afrikaanse Flamingo. Die sketse wat uiteindelik die prag rooi driewiel motorfiets sou word. Fotostories wat Ben se dogter, Paulie, bymekaar gesit het.
Vir nou is Ben klaar gebou. Hy gaan nou hengel. Nog iets waarvoor hy sy lewe lank al lief is. Daarom het hulle rivier toe getrek. Hy vang met kunsaas – sommer net vir die lekkerte.

‘n Lekkerte byna so groot soos wanneer hy sy sit op die spoggerige rooi driewiel kry om hom in die motorhuis te parkeer vir die dag as hy die oop pad kus toe vat.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button