Sentrum-ontwikkeling sal werksgeleenthede vir dorp bring
Sentrum-ontwikkeling sal werksgeleenthede vir dorp bring

Hoewel daar reeds met grondwerk begin is, sal bouwerk aan die nuwe Rivershed-sentrum langs Parys se hoofstraat naby die Vredefort-ingang van die dorp, eers in Januarie 2022 begin. Die hoofingang van dié enkelvlak ‘leefstyl” sentrum sal in Breëstraat wees.
Die sentrum sal ‘n totale verhuurbare oppervlak van 8 027 m2 hê, wat onder meer winkels soos Checkers, Checkers Liquor, Panarottis Pizza, Ultra Mobile, Tasko Sweets, SpecSavers, Pep Clothing, Queenspark, Miladys, Local Choice Pharmacies, Big Joes Pies, Pet Zone, West Pack Lifestyle, Dealz en Good Knight Bedding sal insluit.


Die ontwikkeling word teen ‘n koste van meer as R144 miljoen gedoen. Die ontwikkelaar, Skoutellas Group of Companies, het reeds ‘n portefeulje van sewe winkelsentrums in Johannesburg en Ballito. Die hersoneringsproses vir die ontwikkeling in Parys het op 10 Maart 2014 begin, en is die hersonering en konsolidering op 3 Desember 2018 goedgekeur. Die kennisgewing hiervoor is op 7 Desember in die provinsiale Gazette gepubliseer.
Die Vrystaat se departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) het die ontwikkeling op 29 Junie vanjaar goedgekeur.
Die sogenaame “Land Use Application Notice” is daarna op 17 Junie vanjaar in Parys Gazette gepubliseer, waarop die publiek vir 30 dae die geleentheid gehad het om die ontwikkelingsplanne te kon besigtig en beswaar aan te teken.
Die goedkeuring vir die ontwikkeling is uiteindelik op 21 September vanjaar deur die Ngwathe-munisipaliteit gegee. Die ontwikkelaar sê hy het groot lof vir die samewerking wat van die Ngwathe-munisipaliteit gekry is met die onderhandelinge en proses wat gevolg is. Die ontwikkeling sluit ook in ‘n addisionele R3,5 miljoen wat deur die ontwikkelaar aan die dorp se kragnetwerk spandeer sal word, en rehabilitasie van sekere paaie in die onmiddellike omgewing van die sentrum.
Die ontwikkelaar het by navraag van inwoners in die onmiddellike omgewing gesê dat die sentrum omheim sal word en saans na handel gesluit sal word. Voorsiening sal gemaak word vir 24-uur sekuriteit op die perseel. Aflewerings sal op vaste tye gedoen word soos wat deur die sentrum se “huisreëls” bepaal word. Die sentrum en winkels sal toeganklik wees vir gestremdes. Sodra konstruksie begin, sal plaaslike arbeid, plaaslike kontrakteurs en subkontrakteurs waar moontlik betrek word, is gesê.




