NewsNews

Toename in misdaad oor feestyd verwag

Toename in misdaad oor feestyd verwag

So kom ons aan die einde van ‘n moeilike jaar vir menige, en almal van ons sien uit na ‘n feestelike blaaskans! Ongelukkig is die seisoen ook ‘n tyd van verhoogde misdaad en mediese ongevalle. Die SAPD, mediese nooddienste, We Care en ander buurtwaggroepe en sekuriteitsfirmas kom onder baie druk as gevolg van die verhoging in insidente. Vanjaar word selfs ’n groter toename in misdaad verwag wat aangewakker word deur die huidige ekonomiese toestande. We Care se patrolleerders onderneem dus om meer sigbaar en meer gereelde patrollies te doen om booswigte te ontmoedig, en daar te wees vir bystand in noodsituasies.

Hou asseblief die volgende in gedagte:

– Weg: Indien jy sou weggaan vir die feesseisoen, moet dit nie op sosiale media of publieke groepe verkondig nie! Dit is ‘n groot uitnodiging vir misdadigers! Deel jou fotos, en vakansie aktiwiteite liefs wanneer jy terug is. Skakel eerder ‘n vertroueling/e om ‘n ogie te help hou en pos uit jou posbus te verwyder wat daarop dui dat jy nie tuis is nie. Maak seker jou diere word goed versorg tydens jou afwesigheid. Maak seker dat jy voorsiening maak vir elekriese, water en gas probleme. Maak jou yskas leeg en los hom oop, draai stopkrane toe om waterskade te voorkom as gevolg van gebarste pype. Draai gassilinders toe. ‘n Klein gaslek in ‘n toe vertrek kan ‘n brandgevaar inhou. Bêre alle losstaande tuintoerusting wat gesteel of gebruik kan word om mee in te breek.

-Tuis: As jy tuis bly, hou ‘n ogie vir ongeruimdhede in jou straat en maak seker jy het die regte kontaknommers vir enige noodgeval. Hou ‘n lys van waardevolle items in jou huis; dit moet verkieslik die model, reeksnommer, foto/beskrywing en waarde van items bevat. Sou daar by jou ingebreek word, kan die omvang van verlies makliker bepaal word, en uitkenning positief geskied sou items teruggevind word. Die skiet van klappers en vuurwerke is onderhewig aan verskeie bepalings ingevolge die plofstof wet. Die publiek word ontmoedig om klappers ensovoorts af te vuur binne dorpsgrense ter wille van dierebeskerming en die rus en vrede van mede- Parysenaars. Jaarliks word baie diere beseer (selfs noodlottig), en nog meer raak soek vir weke nadat hul verwilder is deur vuurwerke. Die plofstof wet bepaal ook dat geen klappers of vuurwerke binne 400m vanaf ‘n hospitaal, siekeboeg of ouetehuis afgevuur mag word nie. Voorsiening moet gemaak word in terme van permitte, brandbestrydingstoerusting, gemagtigde area, ens. Ons moedig diegene aan wat graag klappers en vuurwerke wil skiet om dit op ’n wettige en veilige manier te doen in ‘n area waar die aktiwiteit nie vir ander tot probleme en steurnis sal wees nie.

– Winkels: Grypdiewe en diefstal uit motors neem toe wanneer meer mense op winkels toesak oor die feesseisoen. Hou dus jou beursie styf vas, maak seker jou motor is gesluit, bly van jou foon af as jy in winkels of in die straat beweeg, en wees bewus van jou omgewing. Veral fone en beursies word dikwels gesteel.

-Motor: Drankmisbruik neem ook toe gedurende die feestyd. Maak seker jy is nugter as jy bestuur, en moenie wanneer jy moeg is op die pad gaan nie. Indien jy in ’n ongeluk beland kan selfs ‘n enkele drankie of oop drank in jou voertuig jou saak belemmer. Wees bedag op dronkbestuurders en roekelose padgedrag. Gebruik sitplekgordels. Versien jou motor en verseker padwaardigheid voor jy ver ry, sodat jy nie gestrand sit langs die pad en jou passasiers in gevaar stel nie. Let op bande, brandstofvlakke, spaarwiel, moersleutel, basiese gereedskap, lisensies en jou noodhulptassie se inhoud. Ry versigtig wanneer jy verby ’n ongelukstoneel beweeg. Talle sekondêre ongelukke het al gebeur wanneer motoriste nie bedag is nie. Wees rustig, verdraagsaam en hoflik. Liewer bietjie later as nooit by jou bestemming. – Gemeenskap: Gesinsgeweldsyfers wys ook gewoonlik ’n toename gedurende die feesseisoen. Dit gaan dikwels gepaard met drank- en dwelmmisbruik. Gesinsgeweld is nie noodwendig fisies nie, maar kan veral ook emosionele geweld insluit. Gesinsgeweld word deur enige geslag gepleeg, en enige ouderdom. Weerloses soos kinders en bejaardes word veral blootgestel, en meestal gebeur dit agter geslote deure. Wees bedag daarop dat in hierdie feestyd daar ook mense is wat aan depressie ly, siek en eensaam is. Rapporteer gesinsgeweld of jou kommer oor ‘n persoon by die SAPD of We Care sodat daar minstens ‘n welwillendheidsbesoek gebring kan word by iemand oor wie se welstand jy bekommerd is.

-Gesondheid: Covid-19 is steeds ‘n groot probleem. Wees bewus dat daar te enige tyd weer strenger maatreëls ingestel kan word ter voorkoming van die verspreiding van die virus. Hou by maatreëls. Verwag verskerpte optrede vanaf die SAPD teen oortreders. Vermy liefs publieke samekomste weens onnodige blootstelling, hou by die aandklokreëltye, onthou jou masker en vermy fisiese kontak met imuun-verswakte mense vir hul beskerming.

-Ondersteuning: Wees geduldig en bedagsaam teenoor almal wat werk terwyl jy met verlof is. ‘n Hartlike of opregte dankie-sê beteken die wêreld vir ‘n oorwerkte lid van die SAPD, ambulansdienste, sekuriteit en buurtwag ensovoorts wat weg van die gemak en samesyn van hul eie gesinne dikwels in gevaar, trauma, ongunstige weerstoestande en lang slapelose ure hul werk moet doen.

Ten slotte: Dankie aan almal wat We Care deur die jaar bygestaan het met verskeie bydraes. Dit verseker We Care se voortbestaan. As ‘n geregistreede nie-winsgewende hulp-organisasie, kan We Care hulp verleen net sover hul oor die hande en finansies beskik. Jy kan steeds ’n bydrae maak deur ’n donasie, of deur gratis aan te sluit by die patrolleerdersgroep om hul hand teen misdaad en nood te versterk. We Care het as dorps-instelling die oë en ore van die SAPD geword, en die eerste linie teen nood vir alle Parysenaars. Kontak gerus een van die admins met vrae, of om meer inligting te kry oor waar jy ‘n verskil kan maak.    

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button