
Daar is so baie van ons wat probleme met hoë bloeddruk het. Min van ons weet egter dat die kos wat ons eet ‘n baie belangrike rol by die voorkoming en bestuur daarvan speel.
Bloeddruk is die hoeveelheid druk wat bloed uitoefen wanneer dit teen die bloedvatwande stoot. Die hart pomp bloed na bloedvate, wat dit dan deur die liggaam vervoer. Hoë bloeddruk (hipertensie) is gevaarlik omdat dit die hart harder laat werk om bloed na die liggaam te pomp. Dit dra ook by tot die verharding van die are (arteriosklerose), beroerte, niersiekte en hartversaking.
Daar is verskeie faktore wat ‘n rol speel. Dit sluit onder meer rook, vetsug of oorgewig, te min fisieke aktiwiteit en die oormatige inname van alkohol in. Verder kan stres, gevorderde ouderdom, gene, slaap-apnee, chroniese niersiekte en probleme met jou bynier of skildklier ook jou bloeddruk beïnvloed.
Gebruik medikasie wat deur jou dokter voorgeskryf is. ʼn Kombinasie van medikasie en sekere kossoorte speel egter ʼn sleutelrol in die stryd teen hipertensie. Die hoeveel sout wat jy inneem, het die grootste invloed op die suksesvolle bestuur van jou bloeddruk. Dit beteken dat enige hoeveelheid wat meer is as die liggaamlike behoefte, te veel is en dus jou bloeddruk verhoog.
Hou hierdie in gedagte as jy hoë bloeddruk het:
- Eet meer vis, neute en peulgewasse soos lensies en bone.
- Verbrand ten minste net soveel kalorieë per dag soos wat jy inneem.
- Kies eerder vrugte en groente as suikerbevattende nageregte en southappies.
- Koop volgraanprodukte in plaas van kosse met verfynde koolhidrate.
- Eet vrugte in plaas daarvan om vrugtesappe te drink.
- Gebruik onversadigde vette soos olyfolie, canola-olie, sojaboon-olie of grondboontjie-olie in plaas van botter, klapperolie of palmolie.
- Eet vars of bevrore voedsel in plaas van blikkieskos en verwerkte voedsel.
- Kies voedsel wat min natrium (in sout) bevat. Gebruik kruie, speserye, asyn en ander produkte om jou voedsel mee te geur.
- Verlaag jou kalorie-inname as jy gewig wil verloor.
- Oefen gereeld. Dit is ook goed vir jou algemene gesondheid.
- Inligting: Internet.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



