
Helpende Hand is van mening dat die Suid-Afrikaanse samelewing kritieke tekortkominge met betrekking tot goeie gesondheidsorg vir hulpbehoewende persone beleef.
Daarom het Helpende Hand sy Ons Spreekkamer ontwikkel en gevestig met die doel om ʼn mediese hulpdiens daar te stel ten einde te verseker dat behoeftige persone toegang tot volhoubare, basiese gesondheidsorgdienste sal verkry.
Die eerste Ons Spreekkamer is vyf jaar gelede in Witbank oopgemaak. Dit het die weg gebaan het vir die tweede sentrum, Ons Spreekkamer Belladonna, wat pas oopgemaak het by die Hervormde Kerk in Belladonnastraat 120 in Nelspruit.
Annemarie van Heerden, Helpende Hand se organiseerder vir die Mpumalanga-streek, was uit die staanspoor betrokke by die stigting van Ons Spreekkamer Witbank. Sy verduidelik dat die Ons Spreekkamers primêre en voorkomende gesondheidsorgdienste aan hulpbehoewende gemeenskappe bied, soos die behandeling van verkoue, griep, ontstekings en infeksies.
“Ons Spreekkamers poog om hoë gehalte primêre gesondheidsorg, gekombineer met deernis, professionele sorg en moderne geneeskunde, pro bono aan behoeftige persone te bied, of alternatiewelik suksesvolle opname in die mediese sisteem te fasiliteer,” sê sy.
“Die doel is ook om ʼn gemeenskapstruktuur te vestig wat as platform sal dien vir mediese praktisyns en verwante professies om hul mediese dienste pro bono aan behoeftiges te lewer.”
Van Heerden sê Ons Spreekkamer is vir behoeftiges wat:
- minder as R8 000 per gesin per maand verdien;
- ‘n staatstoelae ontvang;
- pensioenarisse is;
- werklose individue is; en
- kinders van behoeftige ouers is.
“Ons Spreekkamer bied nie behandeling aan inlooppasiënte en noodgevalle, soos by staats- en privaat hospitale nie, maar lewer ‘n diens aan pasiënte wat deur ons samewerkende organisasies na die gesondheidsorgsentrum verwys is,” voeg sy by.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê Ons Spreekkamers voorsien in ʼn behoefte waarvoor daar nie ʼn ander plan is nie.
“Ons Spreekkamer Witbank het in vyf jaar 1 500 pasiënte gehelp om noodsaaklike versorging en mediese dienste te bekom. In elke gemeenskap is die behoefte daar, maar nie alle gemeenskappe weet hoe om iets daaraan te doen nie. Nelspruit sê ons kan! Hulle het reeds ses dokters, twee tandartse, ʼn oogkundige, netwerkvennote, apteke en donateurs aan boord. En so word nood in ʼn gemeenskap aangespreek,” sê Noëth.
“Uiteraard het Ons Spreekkamers beperkings. Hulle kan nie in alle behoeftes voorsien nie, maar dit is ʼn begin en getuig van die krag van ’n gemeenskap wat omgee, omsien, versorg en begelei. Dit bring vermoëns en gawes bymekaar en maak ʼn gemeenskap sterk.”
Besoek www.sluitaan.co.za om Helpende Hand in staat te stel om voorspoed te verseker. Vir meer inligting oor Ons Spreekkamer Belladonna, stuur ʼn e-pos na onsspreekkamer.belladonna@gmail.com of bel 072 296 2062.





