NewsNews

Granny’s Pies se Ouma Tina gegroet

Granny’s Pies se Ouma Tina gegroet

 

 

Die 90-jarige ouma Tina van Schalkwyk, wie se pasteitjieresep die begin was van die Granny’s Pies onderneming in Parys, is Dinsdag, 22 Februarie in die ouderdom van 90 jaar oorlede. Die gedenkdiens is Maandag gehou. Haar dogter, Marlett Stadler, vertel hoe sy en haar man 12 jaar gelede van Tzaneen Parys toe getrek het – sy as entrepreneur, en hy ‘n afgetrede polisieman – en dadelik besef het dat hul té jonk was om by die huis te sit.

Sy het onthou van die pasteitjies wat haar ma kleintyd gebak het, en het die resep daar en dan sommer oor die foon van haar ma gekry. Dit was die nederige begin van die onderneming wat vandag hul pasteie ook aan kliënte buite Parys lewer.

Aan die begindae van die onderneming was hulle nog nie ingerig om op groot skaal te kon bak nie, en is ‘n leë wynbottel by gebrek aan ‘n deegroller gebruik om die deeg uit te rol. Vir die eerste drie maande is meer pasteie weggegee as verkoop, vertel Marlett, omdat hulle nog nuut was in die dorp, en nie geweet het waar geskikte afsetpunte sou wees nie. Só het haar ma se pasteie vir Marlett geloofspasteie geword waarmee sy in geloof elke oggend haar bestellings uitgestuur het. Kort voor lank het die onderneming uit sy nate begin bars met eers die kombuis wat groter gemaak moes word, en toe die buitekamer wat later ingerig moes word vir Granny’s Pies. Kort voor lank was ook dié spasie té min, en is ‘n eie perseel vir die onderneming gekry.

Telkens wanneer ouma Tina van Vereeniging gekom het om te kom kuier, was dit haar grootste vreugde om te help om die pasteitjies te pak, en te kyk hoe die bakkers werk. As dit by bak kom het ouma Tina se hande vir niks verkeerd gestaan nie. Sy het gereeld anysbeskuit vir Granny’s Pies gebak, en was al diep in haar sewentigs toe sy nog gehelp het met die 500 dosyn koeksisters wat haar gemeente in Vereeniging elke jaar gebak het. Toe die kerk ‘n deegmasjien wou koop vir die koeksister-bakkery, het ouma Tina vasgeskop. Sy wou self die deeg werk.

Verlede jaar het haar gesondheid agteruitgegaan, en was sy die laaste vier maande in ‘n versorgingsoord in Drie Riviere, waar sy oorlede is. Granny’s Pies se ‘granny’ sal onthou word as ‘n merkwaardige vrou wie se hande altyd reg was om te dien. Sy word oorleef deur haar drie dogters, twee skoonseuns, nege kleinkinders en 12 agterkleinkinders.  

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button