
Een en dertig liters melk, ‘n hele paar kilogram se koekmeel en suiker, twee dae se voorbereiding en ses mense wat uiteindelik moes hardloop om voor te bly. Die eindresultaat – nagenoeg 56 melkterte met verskillende geure, en sowat 70 melktert doughnuts waarvoor Parysenaars Sondag letterlik van vroegdag tou gestaan het, want dié soet kaneelverleiding word immers net een keer per jaar op Nasionale Melktertdag gevier.
Sonder uitdagings was vanjaar se Melktertdag egter gewis nie vir Koekhoek Tuisgebak se Percy en Ernst nie. Met urelange kragonderbrekings wat dele van Parys Saterdag moes trotseer, het dit beteken dat dié twee Sondag in die vroeë oggendure nog aan die bak was, want vir die afgelope drie jaar is die viering van Nasionale Melktertdag een van hul groot tradisies.
Of dit nou die tradisionele melktert, in ‘n degie, as ‘n kolwyntjie, of ‘n vulsel in ‘n oliebol (doughnut), soos ‘n pizza gesny, óf met ‘n brownie of pepper mint crisp kinkel is – elke jaar sorg hulle vir minstens twee nuwe melktert-variasies om die dag te vier. Hulle eksperimenteer elke jaar met smaakkombinasies om nuwe lewe aan dié tradisionele lekkerny te gee wat terloops nie so eg Suid-Afrikaans is as wat ons graag sal wil glo nie.
Vra jy hulle wat Parysenaars se gunsteling was vir vanjaar se Nasionale Melktertdag (Sondag, 27 Februarie), is die antwoord sonder twyfel – die brownie/melktert kombinasie en die melktert-gevulde doughnuts.
Hulle het die brownie/melktert kombinasie verlede jaar die eerste keer gemaak vir Nasionale Melktertdag en was dit toe al ‘n treffer.
Hulle deel Ronel Botha van Rustenburg se resep vir Ouma se melktert wat lesers gerus kan probeer as jy ‘n paar melkterte moet bedien
Lewer 4 terte Voorverhit die oond tot 180 grade Celsius.
Bestanddele kors: 125g botter of margarien, 125ml strooisuiker, 1 ekstra groot eier, 500ml koekmeelblom, 5ml bakpoeier, ‘n knippie sout.
Metode vir kors: Room die botter en suiker tot lig. Voeg die eier by en klits goed. Sif die droë bestanddele saam en voeg by. Meng tot ‘n sagte deeg en druk vas in vier 23cm tertborde. Bak 10 minute lank.
Vulsel: 1,5 liter melk, 45ml mielieblom, 45ml koekmeelblom, 200ml suiker, 6 ekstra groot eiers, geskei, 45ml botter of margarien, 5ml vanieljegeursel en kaneelsuiker.
Metode vir vulsel: Meng die melk, mielieblom, meel en suiker in ‘n kastrol. Verhit tot kookpunt terwyl gedurig geroer word. Voeg van die verhitte melkmengsel by die eiergele, meng en giet terug in die melkmengsel. Voeg die botter by en roer met ‘n draadklitser tot die mengsel verdik. Verwyder van die hitte en roer die geursel by. Klits die eierwitte styf en vou in. Skep die vulsel in die tertkorse en strooi kaneelsuiker oor. Bak vir 20 minute. Laat afkoel en sit voor.




