NewsNews

Ma-en-dogter span kry woordweersin tieners aan die lees

Ma-en-dogter span kry woordweersin tieners aan die lees

 

Dit is nie aldag dat lesers ‘n ma en dogter se talente in woord en skets saamgevoeg kry nie, maar die spanwerk in Anderkant die blou van skrywer Zelda Bezuidenhout, en haar ewe talentvolle dogter, Mia, is ‘n eerste vir ma en dogter wat selfs tieners met ‘n woordweersin vir boeke, nie sal kan weerstaan nie. Zelda en Mia, (‘n derdejaarstudent aan The Animation School in Kaapstad wat binnekort 21 word), het saam aan Anderkant die blou gewerk.

Die boek is pas deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Zelda wat geen bekendstelling as skrywer nodig het nie, het die storie geskryf, met Mia wat die illustrasies vir die boek gedoen het. Met ‘n  fyn ingesteldheid tussen ma en dogter, laat Mia se pensketse jou die Kalkbaai-storie ‘sien’.

 

 

 

Die foto van Zelda en Mia op Kalkbaai se hawe, is geneem juis in die tyd toe Zelda die boek geskryf het.

Zelda vertel dat tydens haar skoolbesoeke soveel leerders met haar gepraat het oor die feit dat hulle sukkel om Afrikaanse boeke te lees. “Daar is natuurlik tieners wat eenvoudig nie hou van lees nie, of wat regtig sukkel om te lees omdat hulle aandagafleibaar is, of aan ‘n siektetoestand ly. Ons eie Mia is byvoorbeeld ‘n epilepsielyer wat aanmekaar kort afwesigheidsaanvalle kry – dit maak lees ongelooflik moeilik,” vertel Zelda.

“Kinders wat Afrikaans as ‘n tweede of derde taal op skool het, sukkel ook baie met dik jeugboeke vol lang, saamgestelde sinne en ingewikkelde woorde.” Op een van dié besoeke, nadat ’n groep meisies by ‘n Engelse privaat skool vir my vertel het hoe hulle Afrikaanse kleuterboeke lees om hul ‘kwota’ Afrikaans in te kry, het ek besluit om ‘n sogenaamde ‘High-Low’ boek in Afrikaans te skryf,” gesels Zelda.

‘High-Low’ staan vir ‘High interest, low reading level’, en kom daarop neer dat die inhoud van die boek interessant en geskik is vir die spesifieke teikengroep (in dié geval kinders van tussen 12 en 15), maar dat die moeilikheidsgraad van die boek baie laer is.

Met Mia se illustrasies, is dit die perfekte boek om vir ‘n Engelstalige tiener te koop, of vir ‘n kind wat dink hulle hou nie van lees nie,” sê Zelda.  

 

 

“As gevolg van al die lekker vermaak op stroomkanale soos Netflix en Showmax en natuurlik die florerende “gaming”-bedryf, moet skrywers deesdae tieners ‘verlei’ om boeke te lees!,” skerts Zelda.

Oor die verhaal self:

“Anderkant die blou speel af in die klein vissersdorp Kalkbaai, in Kaapstad. Nog voor my geboorte, het my ouers en ouer sibbe jaarliks al die pad van Lusaka in Zambië gery om in Kalkbaai te gaan vakansie hou.”

Zelda en haar man, Izak, en Mia, het die tradisie voortgesit en is ongelooflik lief vir die hawedorpie.

“Die verhaal gaan oor ‘n groepie vriende – nuwes en bestaandes – wat mekaar baie beter leer ken een Aprilvakansie. Saam beleef hulle ‘n tragiese ding wat hulle saamsnoer soos wat trauma dikwels maak. Dis meer as ‘n vakansieromanse. Dit gaan ook oor misverstande, verlies en wat ek beskou as die driebestanddeel-resep vir geluk: Iets om te doen, iemand om lief te hê en iets om na uit te sien,” sê Zelda.

Anderkant die Blou behoort teen die einde van Maart by La Vie en Rose, Meyers Ranch, Lekker Bistro en Liewer Koffi in Parys te koop te wees. Die boek is ook beskikbaar by Exclusive Books, Bargain Books en al die ander groot boekwinkels.

 

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button