NewsNews

‘God se wonderwerkie’ met veggees nou op die herstelpad

“Dit is ‘n wonderwerk dat Keean so vinnig herstel. Hy is baie woelig en het baie energie en ons glo dit gaan help om hom deur te dra. Elke dag is daar ‘n verbetering."

Komende Saterdag, 9 Julie vier klein Keean Claase sy eerste verjaardag by die huis in Potchefstroom.
Die feit dat hierdie dapper seuntjie, wat met ‘n Tetralogy of Fallot-hartkondisie gebore is, baie goed aansterk na sy beroerte en Covid-19 terugslae, is ‘n wonderwerk.

In Junie is Keean in die Netcare Sunninghill Hospitaal in Sandton opgeneem toe hy die Bocavirus sowel as Covid-19 opgedoen het. Hy het later tydens behandeling in die hospitaal ook ‘n beroerte gekry wat die linkerkant van sy lyf tydelik verlam het.

Francois Claase is hier besig om die loopraam te bou vir Keean vir sy eerste verjaardag op Saterdag, 9 Julie. Foto: Verskaf

Hy is sedertdien ontslaan en sterk nou aan by die huis, maar is van suurstof afhanklik.
Volgens sy ouers, Francois Claase en Michelle du Preez, was dit veral uitdagend om seker te maak dat daar genoeg suurstof is vir Keean, veral wanneer beurtkrag inskop.

“Ons kan dan nie die suurstofmasjien gebruik nie en moet dan ‘n suurstofbottel gebruik vir die tye wanneer die krag af is,” noem Francois.

Voordat siekte Keean getref het, sou hy ‘n operasie vir sy hartkondisie gekry het. Weens sy toestand en gepaardgaande herstelproses, kan daar nou heel moontlik eers oor drie maande geopereer word.

“Die besluit is toe geneem om na drie maande eers weer ‘n MRI-skandering te doen en hom dan weer op te neem om te kyk hoe sy brein lyk. Dan kan daar ‘n volledige skandering van sy hart gedoen word om vas te stel of hulle die operasie vir die gaatjie in sy hart sal kan doen,” noem Francois.
Om Keean se herstelproses aan te help, word daar ook van arbeids-, fisio- en spraakterapeute gebruik. Sy ouers noem ook dat hulle dankbaar is vir al die dokters en spesialiste wat ‘n pad saam met hulle eenjarige stap.

Die pad na herstel is nog lank en elke dag is daar doktersrekeninge wat soos berge op die horison opduik.
Volgens Keean se ouers is daar nie geld om die baie rekeninge te betaal en die groot finansiële las te dra nie, maar hulle hou vas aan geloof, glo vir ‘n wonderwerk en weet dat die Here hulle sal dra.

Hulle het solank ‘n spaarrekening geskep om met Keean se mediese kostes te help. Hulle het ook ‘n Dis-Chem T5-rekening geskep. Die publiek kan geld in die rekening plaas met die verwysing: T5 No: 2944
Francois noem dat hierdie afgelope maand bewys het dat die Here keer op keer hulle gesin tussen al die terugslae dra.
“Dit is ‘n wonderwerk dat Keean so vinnig herstel. Hy is baie woelig en het baie energie en ons glo dit gaan help om hom deur te dra. Elke dag is daar ‘n verbetering. Sy linkerkant beweeg al en hy kan ook al stadig loop. Ek bou juis vir hom ‘n loopraam vir sy verjaardag sodat hy makliker kan beweeg.”
Die besonderhede van die spaarrekening om met Keean se mediese kostes te help is as volg:
Keean Claase (Donate/Gift Profile)
ABSA Spaar
Rekeningnommer: 9372 1295 11
Verwysing: Donate medical

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button