Inwoners self ook skuldig aan morsige sypaadjies en parke
Die Ngwathe Warriors sal weer Saterdag, 3 September ‘n gemeenskapsskoonmaakaksie in die dorp hou.


Net twee dae nadat ‘n groep vrywilligers van gryskoppe tot skoolkinders, op Nasionale Vrouedag Parys se hoofstraat en langs die rivieroewer skoongemaak het, is sowaar weer tuinvullis gestort, juis waar skoongemaak is.
Die tuinvullis is by die Vredefort-ingang van die dorp by die ou begraafplaas afgegooi.
Maar dit is nie net hier waar morsjorse van hul vullis ontslae raak nie.
Op sypaadjies, oop erwe en parke, langs die Doverpad, langs die Parys/Koppies-pad, in Oudewerfpark – oral word neergegooi.
Selfs ‘n verkeersbeampte is gesien waar hy vullis uit sy motor gooi.
Die jammerte is dat ten spyte van grootskaalse pogings deur individue, organisasies en die munisipaliteit om vullis op te tel en te verwyder, kan die dorp net skoon gehou word as elke inwoner en die herwinnaars wat van die afval op die straat leef en mors waar hul sorteer, saamwerk om die morsery stop te sit.
Maar die vinger word ook na die Ngwathe munisipaliteit gewys.
Solank as wat die dorp se munisipale stortingsterrein nie behoorlik beheer en beveilig word nie, die pad na die stortingsterrein in ‘n haglike toestand is, en daar nie meer ‘n tuinvullis oorlaaistasie is soos vroeër nie, sien mense nie kans om stortingsterrein toe te ry nie.
Die gevolg is onwettige stortings wat by die dag toeneem en ‘n demper plaas op die harde werk wat ingesit word deur onder meer die Ngwathe Warriors om weekliks met net die steun van borge, die hoofstraat en rivieroewer skoon te hou. Dit juis ter wille van besoekers wat naweke na die dorp stroom.

Dankie aan die groep vrywilligers wat Dinsdag hul tyd opgeoffer het om nie minder nie as 120 sakke vullis bymekaar te maak, asook aan die Eco Skole-program en NgwatheRa wat die skoonmaakaksie ondersteun het.
Ook aan hulle wat stil-stil op eie inisiatief ander plekke in die dorp skoonhou. Elke bietjie maak ‘n verskil.

Dinsdagoggend, 9 Augustus is daar 120 sakke volgemaak met vullis tydens ’n skoonmaaksie langs die hoofstraat en op die rivieroewer.
Hiervan is dorpe soos Vredefort en Kroonstad ‘n sprekende bewys van inwoners wat self begin het om ‘n verskil te maak.
Die Ngwathe Warriors sal weer Saterdag, 3 September ‘n gemeenskapsskoonmaakaksie in die dorp hou.
Bring jou glimlag, jou handskoene en sakke en kom help om ons dorp weer reg te ruk.
As jy meer inligting oor die skoonmaakaksie wil hê, wil bydra tot die Ngwathe Warriors se weeklikse skoonmaak, of self wil kom help, skakel Braam Cilliers by 072 779 4079.
Braam het destyds met ‘n Gideonsbende van vier werklose mans begin om Breëstraat tweeweekliks skoon te maak, juis omdat hy besorgd was oor die rommelstrooiery. Daar is toe ook dromme aangekoop wat geverf en op strategiese plekke geplaas is.
Stadigaan het die inisiatief momentum gekry, en het ander hul by Braam aangesluit. Sporadiese skenkings deur inwoners en besigheidseienaars help om die aksie aan die gang te hou, en skep die karakter, Whatty (kort vir Ngwathe) deesdae ook groter bewusmaking onder veral skoolkinders vir ‘n skoner omgewing.





