Dosente-egpaar kry saam doktorsgraad
Stephan Cloete, ’n oudleerder van Hoërskool Parys, en sy vrou, Caroline Piotrowska, het albei hul doktorsgrade aan die NWU se Vanderbijlpark-kampus verwerf, waar beide van hulle al vir jare werksaam is. Albei is ook vakhoofde. Stephan het in Parys grootgeword. Hy het sy BA-graad in Grafiese Ontwerp en Multimedia voltooi, en daarna ook sy Meestersgraad …

Stephan Cloete, ’n oudleerder van Hoërskool Parys, en sy vrou, Caroline Piotrowska, het albei hul doktorsgrade aan die NWU se Vanderbijlpark-kampus verwerf, waar beide van hulle al vir jare werksaam is. Albei is ook vakhoofde.
Stephan het in Parys grootgeword. Hy het sy BA-graad in Grafiese Ontwerp en Multimedia voltooi, en daarna ook sy Meestersgraad in Film- en Kunsgeskiedenis. Sy doktorale tesis het hy gedoen met spesialisasie in Visuale Naratiewe en die wederkerige invloede tussen die samelewing en die artefakte wat die samelewing skep. Hy is tans vakhoof in Kommunikasie studies by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark-kampus waar hy klas gee in webontwikkeling, bladuitleg, en multimedia.
Stephan en Caroline het mekaar op kampus ontmoet nadat hulle letterlik vir jare in die gange bymekaar verbygeloop het.
Hulle is in Februarie 2018 getroud, en het ook saam ‘n Honneursmodule geskryf wat handel oor strokiesprente (comics). “Dit meng ons liefde vir literatuur en die visuele kunste,” gesels Stephan.
Caroline se ouers, Leszek Piotrowski en Małgorzata Piotrowska is oorspronklik van Poland, en woon in Vanderbijlpark vanaf 1989.
Sy het `n BA in Engels en Sielkunde, en `n honneurs en MA in linguistiek. Sy het haar PhD verwerk in Engelse Linguistiek en spesialiseer in die multimodaliteit en veeltaligheid op aanlyn platforms in `n Suid-Afrikaanse konteks.
Caroline is vakhoof in Engels by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark-kampus. en gee klas in letterkunde en linguistiek.
Stephan se gradeplegtigheid was in Junie, en Caroline s’n in Julie.
Stephan is die seun van dr. Corrie Cloete, ook van Parys, en René van Loggenberg van Hartbeespoort.



