Bewaar en beskerm ons natuurlike waterfilters
Bewaring van ons vleilande help kitsvloede voorkom en speel 'n deurslaggewende rol in watersekerheid.
Ter viering hiervan het Rand Water die bewaring van vleilande as een van die temas van die viering van die dag uitgelig.
Parys is in die bevoorregte posisie om ‘n natuurlike vleiland-gebied in die dorp te hê wat enorme toerisme-potensiaal bied.
‘n Inisiatief om hierdie verwaarloosde natuurlike vleiland-gebied te rehabiliteer, om die onderbenutte gebied te omskep in ‘n volhoubare vleiland-ekosisteem wat toeganklik en veilig sal wees vir alle gemeenskappe, is reeds ‘n geruime tyd aan die gang danksy ‘n groep vrywilligers wat hul kundigheid in hul onderskeie beroepsvelde en passie vir die natuur vir hierdie doel beskikbaar gestel het.
Daar word beoog om die eerste fase van die projek binne die volgende jaar te voltooi.
Landloop- en fietsryroetes is reeds hier ontwikkel en is die eerste landloopbyeenkomste ook al in die vleiland gehou.
Hierbenewens is die plaaslike voëlklub betrek en is sedert begin is met die vleiland-rehabiliterigsprojek al verskeie plantspesies en voëls in die vleiland op die iNaturalist toepassing aangeteken.


Waar is die vleiland?
Die vleiland-area strek vanaf Tumahole tot onder by die Mimosa Tuine. “Die area begin by ‘n natuurlike varswater fontein aan die agterkant van die Viva-vulstasie in Parys se nywerheidsgebied,” vertel Leida Schuman, een van die vrywilligers betrokke by die projek. Sy verduidelik dat die vleiland ook ‘n hoof voetgangerroete is vir mense wat daagliks tussen Tumahole, Schonkenville en Parys beweeg. Dit verbind skole, die nywerheidsgebied van Parys en woongebiede.
Dié area is oor jare besoedel deur mense wat bou en huishoudelike rommel hier stort, indringer plantspesies soos katbos, en riool en ander afvalstortings in die Mimosa-spruit. En steeds is daar gereeld morsjorse wat vullis en bourommel onwettig in die vleiland stort.

Natuurlike fontein
Die natuurlike fontein waar die Parys-vleiland begin is sover bekend deur die gemeenskap gebruik as waterbron toe die gebied vroeër jare nog vir boerdery-aktiwiteite gebruik is, voor die ontwikkeling van die dorp se nywerheidsgebied. Vandag gebruik inwoners steeds die fontein as waterbron.
Water van die fontein vloei verby die sportvelde van Parys se laerskool, agter verby die Sasol vulstasie, en sluit aan by die Vaalrivier in Mimosa Tuine. Waar die fonteinwater kristalhelder en drinkbaar is, versamel dit oor ‘n afstand van minder as 3km riool en ander skadelike stowwe, wat uiteindelik bydra tot die besoedeling van die Vaalrivier! Daarom die nodigheid om hierdie vleiland gebied te rehabiliteer en te bewaar.
Suid-Afrika se vleilande is biodiversiteitryke ekosisteme wat ’n diverse verskeidenheid plant- en dierelewe ondersteun, insluitend endemiese en bedreigde spesies.
’n 2021-opname van Suid-Afrika se bosbougrondbesit het bevind dat meer as 300 000 hektaar (ha) natuurlike en semi-natuurlike habitatte aktief bestuur en onderhou word binne die bosboulandskap. Dit sluit meer as 171 000 ha grasvelde en hul gekoppelde vleilandstelsels in. Deur aktiewe omgewingsbeheer van hierdie habitatte, kan bosboumaatskappye ‘n beduidende en positiewe rol speel om sleutel-ekosisteme soos vleilande te bewaar, tesame met bedreigde, bedreigde en endemiese spesies wat hulle ondersteun.



