Kritieke instandhouding gaan baie dié week met droë krane laat sit
Rand Water sê die doel van hierdie beplande instandhouding is om kapasiteit te verhoog en beskikbaarheid, betroubaarheid en operasionele doeltreffendheid te verbeter.
Rand Water beplan om kritieke instandhoudingswerk aan sy sleutel-infrastruktuur uit te voer vanaf Donderdag, 29 Mei.
Die instandhouding sal op verskillende tye en plekke oor verskeie munisipaliteite begin. Die hoofinstandhoudingsoperasie is geskeduleer om op 29 Mei om 03:00 te begin en word verwag om op 2 Junie om 17:00 voltooi te wees.
Gedurende hierdie tydperk sal die pompvermoë by die Eikenhof-, Palmiet-, Mapleton- en Zwartkopjes-stelsels verminder word. Gebiede binne die stede Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane mag lae druk of onderbroke watervoorsiening ervaar. Die instandhouding kan ook die watervoorsiening aan die plaaslike munisipaliteite van Rand West, Mogale City, Merafong, Madibeng, Lesedi, Govan Mbeki, Rustenburg, Royal Bafokeng Administrasie, Victor Khanye, Thembisile Hani, Midvaal en Emfuleni beïnvloed.
Vir Vaaldriehoekers beteken dit 16 dae se beproewing met onderbreking van watervoorsiening van 30 Mei tot 16 Junie vir die skoonmaak en herstel van opgaardamme. Gebiede wat deur die onderbreking geraak gaan word, sluit in Bedworthpark,
Sharpeville, Tshepiso, Boipatong, Vanderbijlpark, Bophelong, Bonanne en omliggende kleinhoewes. Die herstelproses van die opgaardamme sal ook dorpe soos Sasolburg, Vaalpark en omliggende dele raak
Rand Water sê die instandhoudingswerk is strategies geskeduleer gedurende die lae verbruik maande van Mei tot Julie 2025 om ontwrigtings te minimaliseer en die potensiële impak op watervoorsiening beter te bestuur.



