Eerste sooi gespit vir NWU mediese skool
Die ultramoderne fasiliteit sal na verwagting in 2027 voltooi wees
Prof. Bismark Tyobeka, rektor en visekanselier van die Noordwes-Universiteit het op 3 Junie die eerste sooi gespit op die bouperseel van die NWU Desmond Tutu Mediese Skool, op die Potchefstroom-kampus. Met dié simboliese gebaar het konstruksie van die land se 11de mediese skool amptelik begin met die eerste groep studente wat in 2028 na verwagting sal inskryf.
Met hierdie mylpaal slaan die NWU ‘n beslissende koers in om die kritieke tekort aan mediese praktisyns in die Noordwes-provinsie en regoor die land aan te spreek. Dit dui ook op die begin van ’n reis waarin die universiteit nuwe grense in mediese opleiding gaan verken.
Die ultramoderne fasiliteit, wat beplan is om in 2027 voltooi te wees, sal dien as ’n vlagskip-akademiese en intellektuele spilpunt by die universiteit. Dit sal die grondslagjare van mediese opleiding huisves, en uiteindelik uitbrei om kliniese platforms by Tshepong- en Klerksdorp-hospitale in te sluit.
“Dit is hier waar ons die verstand en karakter van toekomstige geneesheers sal vorm – individue wat groot verantwoordelikhede met waardigheid, wetenskaplike uitnemendheid en ’n onwrikbare toewyding tot diens sal dra,” het prof. Tyobeka gesê/
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die universiteit se regeringsvennote, regulatoriese liggame, die Aartsbiskop Desmond Tutu IP Trust en plaaslike gemeenskapsleierskap, wie se leiding, ondersteuning en vertroue in die NWU se visie van deurslaggewende belang was.
“Dit is nie bloot ’n infrastruktuurprojek nie,” het hy afgesluit.
“Dit is ’n belofte aan toekomstige geslagte – ’n verbintenis om op te lei, te genees en op te hef. Soos ons vandag die grond breek, laat ons dit met doelgerigtheid doen. En laat ons altyd met deernis dien. Dankie, en mag die Almagtige hierdie onderneming en almal wat daartoe bydra, seën,” het hy afgesluit.
T



