Opera-hoofrol vir plaaslike sang onnie
Tenoor Stéfan Louw is sedert 2012 in Parys gevestig waar hy ook 'n sangskool het, maar is steeds aktief as wêreldklas uitvoerende kunstenaar.
Plaaslike sangonderwyser, Stéfan Louw, vertolk die manlike hoofrol van Don José in die opera Carmen wat van 18 tot 25 Julie by die Johannesburg Teater te sien is.
Louw, wat in 1998 die First National Bank (FNB) Vita toekenning vir die Beste Nuweling in Opera ontvang het, en sederdien verskeie opera-optredes in Suid-Afrika, Amerika, en Europa gehad het, is opgewonde oor die vertolking van die karakter wat een van sy gunstelinge is, sê hy.
Oor die karakter vertel Louw dat Don José die tragiese tenoor in die hart van Bizet se Carmen is. Hy is ‘n korporaal in die berede eenheid van die Spaanse weermag. ‘n Eerlike en pligsgetroue soldaat wat in Sevilla gestasioneer is. Hy het ‘n siek moeder vir wie hy sorg, en beoog om met sy jeugliefde, Micaëla, te trou. ‘n Eenvoudige lewe waarin hy troos vind.
Dan word sy wêreld op sy kop gedraai die oomblik toe hy die vurige Carmen, ‘n werker by ‘n sigaretfabriek, ontmoet.
Aangetrokke deur haar vrye gees en bekoring, verlaat hy sy pos, bedank uit die leër en wys Micaëla van die hand – ‘n impulsiewe besluit wat die begin van sy morele verval merk.
Louw vertel namate José al dieper in Carmen se wêreld van smokkelary en spanning getrek word, verhard sy aanvanklike onskuld tot ‘n obsessie wat deur jaloesie gedryf word. Hy word verskeur tussen liefde, eer en wraak.
Teen die laaste bedryf het José se passie in woede verander. Nie in staat om Carmen se nuwe liefde vir die stiervegter, Escamillo te verduur nie, vermoor hy haar in ‘n jaloesie-aanval en beklink daarmee sy eie ondergang.
Deur musikale motiewe en dramatiese aria’s skets Bizet ‘n Don José wat nie net as ‘n skurk verskyn nie, maar as ‘n mens wat deur begeerte verswelg word – ‘n treffende studie van hoe liefde kan inspireer en vernietig.

Louw het Parys in 2012 sy tuisdorp gemaak en het in 2020 sy sangskool in die dorp begin. Hy is die stemafrigter vir verskeie plaaslike inwoners waaronder ook drs. Walter Bell en Gerrit Gouws, en oudioloog Susan Venter.
Hierbenewens het hy al verskeie keer saam met die Deo Gloria koor, onder leiding van Erna Rademan en Marli Kruger opgetree, en bied hy kwartaallikse huiskonserte aan in sy voorhuis in Derdelaan..
Buiten sy werk as stemafrigter is hy steeds aktief as ‘n wêreldklas uitvoerende kunstenaar.



