Skoolhoof: ‘Kinders is ons besigheid’
Parys en sy gemeenskap het reeds diep in die hart van skoolhoof Pieter Janse van Rensburg gekruip
“Ek sien daarna uit om ‘n verskil in die lewens van die kinders van Hoërskool Parys te maak, maar ek is ook opgewonde om te sien watter verskil hulle in my lewe gaan maak.” So gesels Pieter Janse van Rensburg, Hoërskool Parys se nuwe hoof wat op 1Julie die eerste keer hier agter die skoolhoof se lessenaar sal inskuif. ‘n Nuwe uitdaging vir hom, maar een wat hy met entoesiasme aanpak na 10 jaar en vyf maande by Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging. Dit is ook daar waar hy adjunkhoof was voordat hy die pos in Parys aanvaar het.
Pieter is ‘n boorling van Meyerton en matrikuleer aan die Landbouskool in Morgenson. Daarna bekwaam hy hom as onderwyser en begin hy skoolhou waar sy wortels lê, “want die Vaalrivier se water het ‘n manier om jou te laat terugkom,” skerts hy.
Sy eerste pos was by Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar hy lewenswetenskappe vir graad 10 en 11, en natuurwetenskap vir graad agt en nege leerders gee.
In 2002 wend hy hom tot die private sektor, voordat hy in 2008 terugkeer na die onderwys met ‘n pos by Krugerlaan Skool, – ook in Vereenigng.
Vier jaar later word hy tot departementshoof bevorder met ‘n pos by Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, en behaal hy in 2011 sy honneursgraad in Onderwys Reg, Onderwys Bestuur en Onderwysstelsels.
Hy sluit in 2014 aan by die personeel van Hoërskool Drie Riviere.
“Kinders is ons besigheid,” gesels Pieter, en daarom is sy wens om voort te bou op die sterk fondament wat by Hoërskool Parys gelê is.
“Ons moet die beste vir ons kinders verseker, sodat ons matrieks hulself kan handhaaf in die wêreld daarbuite met die kwalifikasie wat hulle hier verwerf het,” sê hy. “Die druk waarmee tieners op ‘n jong ouderdom vandag gekonfronteer word, is groot,” gee hy te kenne. “So ook die druk op ouers en onderwysers.” Daarom is die welstand van ‘n skool se personeel vir Pieter ‘n kern aspek in die bestuur van ‘n skool.

Pieter is ‘n man met passie vir rugby. Nie net het hy hom as provinsiale skeidsregter bekwaam nie, maar het hy gedien op die SA Rugby Ontwikkelingspaneel. Tans is hy sekretaris van die Valke Hoërskole Rugbyvereniging en dien op die SDC Noordvaal bestuur.
Wanneer skoolverpligtinge hom nie besig hou nie, is familietyd vir hom belangrik.
Met sy vrou, Corli, wat ook in die onderwys is en ‘n pos by Krugerlaan Skool het, en sy dogter, Zanté-Marie, in matriek, sal hulle later by hom aansluit in Parys, maar het die dorp se rustigheid en gemeenskap reeds diep in sy hart gekruip.-



