Bloedskenkhelde: Jou troeteldier kan ook ‘n lewe red
So belangrik as wat skenkerbloed vir mense in mediese noodgevalle is, benodig veeartspraktyke ook skenkerbloed veral van honde in noodsituasies soos skiet-, byt of trefwonde waar baie bloed verloor is, sommige outo-imuum bloed/beenmurg siektes, inwendige bloeding voor of tydens chirurgie, of selfs met rotgifbehandeling. Katskenkers is minder volop, en bloedoortappings by katte nie so algemeen …
So belangrik as wat skenkerbloed vir mense in mediese noodgevalle is, benodig veeartspraktyke ook skenkerbloed veral van honde in noodsituasies soos skiet-, byt of trefwonde waar baie bloed verloor is, sommige outo-imuum bloed/beenmurg siektes, inwendige bloeding voor of tydens chirurgie, of selfs met rotgifbehandeling. Katskenkers is minder volop, en bloedoortappings by katte nie so algemeen nie.
Interessante feite oor bloedskenk by honde
Geskikte skenkers:
Gesonde, jong en fikse honde, veral groot ras-honde wat meer as 25kg weeg, is geskik om bloed te kan skenk.
Honde met ‘n goeie en rustige temperament is egter ideaal, omdat dit die proses minder stresvol maak.
Dit is belangrik dat die hond se ente en eksterne parasietbehandeling op datum moet wees.
DEA 1.1 negatief is universele skenkers, maar veral in die platteland word dit selde getoets en is veeartse dankbaar vir elke druppel beskikbare bloed.
Honde waarmee geteel word, word egter nie as skenkers gebruik nie.
Toetse voor die prosedure
- Die veearts sal ‘n kliniese/ gesondheidsondersoek doen, asook ‘n bloedsmeer om enige Bosluiskoors (Babesia en Ehrlichia parasiete) uit te skakel.
- Toetse vir bloedgroep bepaling (beskikbaar by groter praktyke, gewoonlik in stede).
Wat is die koste verbonde vir troeteldiereienaars wat graag hul honde wil laat registreer as skenkers, en
hoe werk die proses om te skenk?
Die koste van die bloedoortapping word gedra deur die ontvanger van die bloed se eienaar.
Wanneer bloed benodig word, sal die skenker se eienaar verwittig word. Die skenker arriveer op ‘n leë maag by die kliniek of hospitaal waar die gesondheidsondersoek/ toetse dan op die skenker gedoen word.
Daarna word sedasie toegedien. Sommige pasiënte het nie nodig om sedasie te ontvang vir die proses nie, maar sedasie maak die proses makliker, veral as ‘n pasiënt baie besig, en/of angstig is.
Gewoonlik word 450ml bloed versamel binne 30-45minute afhangend van die vlak van sedasie. Die skenker ontvang dan ‘n inspuiting om ‘wakker’ te word (en moontlik ook ‘n vitamien B-kompleksinspuiting).
Die skenker word ook bederf met lewer biltong om dankie te sê, en kan dan weer huis toe gaan.
Hoe gereeld kan daar bloed geskenk word?
Skenkers kan elke 8-12 weke ‘n lewensreddende bydrae maak.
Watter bloedgroepe kry ons by honde en is alle bloedgroepe van honde versoenbaar en geskik vir oortapping?
Honde het sewe bloedgroepe wat aandag geniet.
DEA 1.1 positief en negatief
DEA 1.2; 3; 4; 5 en 7
DEA 1.1 negatief is die universele skenkers (amper soos O-negatief by mense)
Sou ‘n pasiënt vir die eerste keer ‘n bloedoortapping ontvang is die kans vir ‘n reaksie skraal, maar dit word voorgestel dat die nodige toetse gedoen word voor die daaropvolgende bloedoortappings. Die ideaal sal wees dat so ‘n pasiënt nie weer ‘n bloedoortapping benodig nie.

Word bloedvoorraad bewaar en hoe, of word skenkerbloed gekry soos nodig?
Afhangende van die ligging van die praktyk en die situasie met noodgevalle na-ure, kan die veearts besluit om bloed te stoor in die praktyk, of om skenkers te laat weet soos bloed
benodig word.
Dit is gerieflik om bloed byderhand te hê soos die situasie homself uitspeel, maar is dit nie altyd finansieel moontlik om die koste aan te gaan, en dan van verouderde bloed ontslae te raak nie.
Bloed kan vir vier weke in die yskas gestoor word en daarna is die rooibloedselle te oud om gebruik te word vir
die ontvanger.
Anders as vir mense waar die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens die organisasie is wat waardevolle werk doen om te verseker dat daar bloedvoorraad is, is daar nie vir diere tans ‘n soortgelyke organisasie nie.
- Wanneer sal dit ‘n risiko wees vir honde om bloed te skenk?
* Ongesonde pasiënte met chroniese kondisies wat insluit:
* Bloedarmoede of bloedingsneigings
* Hart-en-nierversaking
* Sistemiese bakteriële of virusinfeksies
* Epilepsie
* Kanker
* Klein-ras honde
* Pasiënte wat sensitief is vir sedasie
Jy kan na Aquila se avonture kyk by https://youtube.com/@aquilla-777?si=OLZggb3Y4rZlrg6d of by
https://www.tiktok.com/@ aquilarof?_t=ZM-8xqhm31rWg4&_r=1


