Local newsNews

Administrasie Beslissing kom oor Ngwathe-aansoek

Die opspraakwekkende uitspraak van regter J.P. Daffue in die Vrystaatse Hoë Hof op 20 Junie, kon tot nou toe nie tot uitvoer gebring word nie, hangende 'n beslissing oor die aansoek om verlof tot appèl wat deur Ngwathe gebring is.

‘n Beslissing oor die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak van die Vrystaatse Hoë Hof op 20 Junie wat ontbinding van die raad en ingryping van die provinsiale regering by die munisipaliteit beveel het, sal nou op 12 Augustus gemaak word. Die datum is Dinsdag deur AfriForum bevestig.

Regter J.P. Daffue se vroeëre geskiedkundige beslissing in die guns van AfriForum, kon tot nou toe nie toe uitvoer gebring word nie, omdat gewag is op ‘n  beslissing van die hof oor Ngwathe se aansoek.

Daffue het vroeër in die opspraakwekkende uitspraak daarop gewys dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van die dorpe Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville nakom nie. Hy het dit ook onomwonde gestel dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is, en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree.

Kragtens sy  uitspraak is bepaal dat die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:

* ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;

* die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;

* en ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.

Daffue het bevind dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel, en beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering met die implementering van die bevel.

Voorts is beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum wat die aansoek na die hof gebring het, se regskoste moet betaal.

Die Ngwathe Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is op 24 Junie by die Hoë Hof in Bloemfontein geliaseer, ‘n dag voordat raadslede tydens ‘n spesiale raadsitting gestem het oor  die kwessie van appèl teen die  uitspraak. Slegs ANC-raadslede het tydens die sitting ten gunste van ‘n aansoek gestem. Die EFF het buite stemming gebly.

Die DA het na die raadsitting gesê hy veroordeel wat beskryf is as die ANC se misbruik van die Raad om ’n besluit wat reeds agter geslote deure geneem is, bloot ‘af te stempel’.

AfriForum het  Dinsdag in ‘n verklaring met verwysing na die vroeëre uitspraak gesê,  ‘n meningspeiling wat die organisasie in Mei en Junie vanjaar onder meer as 800 inwoners van Parys gedoen het, getoon het  dat agt uit elke tien respondente ontevrede is met die dienste wat die munisipaliteit lewer.

Padinstandhouding, watervoorsiening en kragvoorsiening is die afdelings waaroor inwoners die hoogste vlak van ontevredenheid aangemeld het, terwyl die grootste tevredenheid was met die munisipaliteit se vullisverwyderingsdiens, is gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button