Uitbranding: Die gevare wanneer jy met chroniese stres leef
Uitbranding is nie net ’n modewoord nie – dit is ’n stille epidemie wat welstand, produktiwiteit en lewensgehalte van mense bedreig, en dit is veral hoë presteerders wat blyk veral kwesbaar te wees.

Volgens Claudia van Blerk, arbeidsterapeut en bestuurder van Netcare Akeso Umhlanga se Centre of Psychotherapy Excellence (COPE) is uitbranding ’n toestand van fisieke, emosionele en geestelike uitputting, veroorsaak deur oormatige en aanhoudende stres. Die drie hoofkenmerke van uitbranding is uitputting, sinisme – oftewel ’n negatiewe of afstandelike houding – en afname in motivering en produktiwiteit oor ’n volgehoue tydperk.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie erken uitbranding as ’n beroepsverskynsel en nie as ’n mediese diagnose nie. Volgens die Gallup State of the Global Workplace 2025-verslag het werknemersbetrokkenheid in Suid-Afrika met ses persentasiepunte gedaal – slegs 23% voel betrokke by hul werk, terwyl meer as ’n derde (36%) daaglikse stres ervaar – albei sleutelkomponente by mense wat aan uitbranding ly.
Mense wat op die rand van uitbranding is, merk dikwels dat gewone take langer neem om af te handel en dat selfs ekstra werkure nie meer die verlangde resultate lewer nie.
Simptome van uitbranding kan insluit:
-
Moegheid
-
Verminderde doeltreffendheid in daaglikse take
-
Gereelde fisieke siektes of beserings
-
Negatiewe gedagtes
-
Lae bui
-
Gebrek aan motivering
“Uitbranding kan geestesgesondheidsversteurings soos angs en depressie ontlok of vererger. Indien dit nie aangespreek word nie, kan simptome vinnig vererger,” sê kliniese sielkundige Vashnie Sithambaram.
“Dit sluit in, maar is nie beperk tot, depressiewe bui, lae motivering, isolasie, negatiewe denke, konstante gespanne gevoelens of bekommernis, ’n lae drempel vir spanning, asook psigosomatiese simptome soos liggaamspyn of griepagtige simptome.”
Sy verduidelik dat psigosomatiese simptome fisieke klagtes is wat deur emosionele spanning veroorsaak word, wat ’n persoon se vermoë om daaglikse verantwoordelikhede na te kom, verder belemmer.
“Uitbranding het ’n rimpel-effek. Geen mens funksioneer in isolasie nie, en uiteindelik kan hierdie simptome verhoudings beïnvloed en konflik veroorsaak, wat die probleem vererger.”
Hoe lank neem herstel van uitbranding?
“Daar is nie ’n vaste hersteltydperk nie – dit hang van die individu en verskeie faktore af,” sê Sithambaram.
Faktore sluit in:
-
Hoe lank die simptome al teenwoordig is
-
Of die persoon konstant in stresvolle situasies verkeer
-
Of die persoon professionele terapeutiese ondersteuning ontvang
Sekere terapieë is korttermyn; ander kan langdurige werk verg om onderliggende oorsake aan te spreek.
Van Blerk voeg by dat sodra ’n persoon die punt van uitbranding bereik het, dit moeilik is om alleen te herstel sonder professionele hulp. “In-pasiënt behandeling mag aanbeveel word. ’n Multidissiplinêre span, insluitend psigiaters, sielkundiges en arbeidsterapeute, kan holisties help om die oorsake aan te spreek.
“Individuele en groepterapieë is baie nuttig. Aanvanklik kan dit moeilik wees om deel te neem, maar ons moedig betrokkenheid aan – dit verhoog die waarde van die behandeling.”
Terapiedoelwitte sluit in:
-
Ontwikkeling van hanteringstrategieë
-
Identifisering van snellers
-
Verandering van negatiewe denkpatrone
-
Behandeling van angs, depressie en ander verwante toestande
“Na ontslag uit die hospitaal is voortgesette buitepasiënt-versorging noodsaaklik. Gesinsessies kan ook help om snellers of probleme wat deur uitbranding ontstaan het, aan te spreek,” sê Van Blerk.
Sielkundiges se wenke om teen uitbranding te beskerm:
-
Omring jouself met ’n sterk ondersteuningstelsel by die werk en in jou persoonlike lewe
-
Moenie selfversorgingsaktiwiteite uitstel nie: rus, doen kreatiewe aktiwiteite, oefen, spandeer tyd met familie, en maak tyd vir stokperdjies of joernaalskryf
-
Sorg vir jou fisieke gesondheid – dit beïnvloed jou geestelike gesondheid en vermoë om stres te hanteer
-
Tydsbestuur: Prioritiseer belangrike take en begin met die moeilikste take om uitstel en onvoltooide werk te vermy
-
Soek professionele hulp indien nodig.
-
Netcare Akeso se krisishulplyn is 24 uur per dag beskikbaar by 0861 435 787
-
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angssteungroep (SADAG) is beskikbaar by 0800 205 026 of 011 234 4837
-



