Carmen: Treffende tragedie van die liefde
Carmen is tot 27 Julie te sien in die Johannesburg-teater.
Parysenaar Stefan Louw en Linette van der Merwe, se uitstaande vertolking in die hoofrolle van die opera Carmen is Sondag met staande ovasie deur ‘n vol teatergehoor in die Johannesburgse teater beloon. Beide Louw en Van der Merwe se liefde vir die opera en die kunste het gespreek uit die passie waarmee hulle die karakters, Don José en Carmen, uitgebeeld het.
In die dramatiese arias, skets Bizet ‘n Don José wat nie net as skurk verskyn nie, maar as ‘n mens wat deur begeerte verswelg word. ‘n Treffende studie van hoe liefde kan inspireer en vernietig, wat toeganklik gemaak word vir die gehoor deur die skermteks van die woorde van die opera.
Louw en Van der Merwe het oor jare saam op die verhoog verskyn in verskeie konserte en operas. Hul paaie het die eerste keer in 1996 gekruis toe beide in die destydse Truk opera-koor gesing het.
Vir Van der Merwe is Carmen een van haar gunsteling operas, “waarin ek net myself kan wees,” vertel sy, terwyl die opera Aïda, een van Louw se gunstelinge is.




Hul wedersydse respek vir mekaar as kunstenaars, hoor jy ook by Thabang Senekal wat die rol van Escamillo met die kroasiër Berislav Jercovic deel, en sedert 2004 saam met Louw en Van der Merwe werk.
“Jy leef jouself in ‘n rol in,” vertel Louw wat in sy tuisdorp bekend is as stemafrigter, en vir die uitstaande huiskonserte wat kwartaaliks met van sy sangstudente aangebied word.
“Operas was vroeër jare van dorp tot dorp geneem en was die ‘sepies’ van die dag wanneer mense om die verhoog kon staan en na die kunstenaars kon luister,” vertel Louw.
Die groen lig om Carmen op die planke te bring is in April gegee, en verdien die orkes en rolspelers, maar ook die teaterpersoneel lof vir ‘n uitstaande produksie wat opera toeganklik maak vir elkeen met ‘n liefde vir die kunste.









