Local newsNews

Wetgewing vereis meer ondernemings moet FICA-registreer

Uiteindelik gaan dit daaroor om finansiële risiko’s en misdaad te beperk — iets wat ook beleggers vertroue gee en beskerm.

In die verlede was hoofsaaklik banke onderhewig aan die Financial Intelligence Centre Act (FICA), maar wysigings aan hierdie wetgewing in 2022 beteken dat meer sakeondernemings nou FICA-geregistreer moet wees.

Die FICA-wetgewing is daarop gemik om finansiële misdaad soos geldwassery en die finansiering van terrorisme te bekamp, verduidelik Thinus Nortje, besturende direkteur van Cloudgate Consulting – ‘n privaat onderneming wat hoofsaaklik vir banke en kredietverskaffers konsulteer.

Sodra ‘n onderneming onder die definisie van ‘n sogenaamde verantwoordbare instelling (accountable institution) of rapporterende instelling (reporting institution), soos deur FICA omskryf, val, moet daar aan die bepalings van die wetgewing voldoen word, sê Nortje.
Gevolglik word van dobbelverwante ondernemings, ondernemings in die kriptogeldeenheid-ruimte, kredietverskaffers soos sogenaamde cash loan ondernemings, meubel- en klerewinkels wat krediet verskaf, of enige ander onderneming wat krediet aanbied, sogenaamde Handelaars in Hoëwaarde Goedere (wat motorhandelaars en juweliers insluit wat items van meer as R100 000 verkoop), asook eiendomsagente, prokureurs, en in sommige gevalle ook rekenmeesters, verwag om te registreer, verduidelik Nortje.

Hy sê die einddoel is om die finansiële stelsel so goed moontlik teen misbruik te beskerm, en dit so vry van misdaad moontlik te hou.

Benewens die verpligting om te registreer by die Financial Intelligence Centre (FIC), moet verantwoordbare instellings ook ‘n Risikobestuur en Voldoeningsprogram opstel en implementeer, en hul personeel oplei en bewus maak van FICA en sy impak op die industrie. Nie nakoming van hierdie verpligtinge kan lei tot groot boetes, en is ‘n prokureursfirma onlangs R7.7m beboet deur die FIC vir nie-nakoming.

Nortje benadruk dat FICA-wetgewing niks nuuts is nie — dit bestaan reeds 24 jaar in Suid-Afrika, maar is ook deel van ‘n wêreldwye poging om geldwassery en terrorismefinansiering teen te werk.

Hy beklemtoon dat FICA nie verwar moet word met RICA nie. RICA, wat deur die Independent Communications Authority of South Africa (ICASA) gereguleer word, is van toepassing op die telekommunikasiebedryf.

Ten spyte van die raamwerk wat FICA bied, het die Financial Action Task Force (FATF), die internasionale liggaam wat finansiële misdaad monitor, in verslae van 2019 en weer in 2022 uitgewys dat Suid-Afrika nie voldoende stappe neem om aan internasionale standaarde te voldoen nie. Gevolglik is Suid-Afrika in Februarie 2023 deur die FATF op die gryslys geplaas.

Mauritius, wat voorheen ook op dié lys was, is die land wat die vinnigste daarin geslaag het om in minder as twee jaar daarvandaan verwyder te word. Lande soos die VSA en die VK
is nie op die gryslys nie.

Registrasie by die Financial Intelligence Centre is gratis. “Die registrasie sperdatum was reeds Maart 2023, en dit is raadsaam om eerder nou steeds te registreer, indien ‘n onderneming onder die gelyste kategorieë val, as om later die gevolge van nie-nakoming te dra,” sê Nortje.

Volgens hom is daar skattings dat net ongeveer 50% van die ondernemings wat moet registreer, dit reeds gedoen het.

Die teikendatum wat deur die regering gestel is om Suid-Afrika van die gryslys verwyder te kry, is Februarie 2026. FATF ontmoet in Oktober, en kan Suid-Afrika moontlik dan van die gryslys verwyder word. Dit sal egter slegs bereik kan word indien ondernemings hul verantwoordelikhede nakom, insluitend registrasie.

Nortje waarsku dat die FIC in Pretoria oor ’n spesiale nakomingseenheid beskik wat
aangewys is om toe te sien dat alle ondernemings wat kwalifiseer ingevolge die
FICA-wetgewing, wel registreer en voldoen aan die ander belangrike vereistes, met
inspeksies wat reeds landswyd plaasvind.

Nortje kan gekontak word by thinus@cgnet.co.za, of besoek die webtuiste https://www.fic.gov.za/ as jy vrae het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button