Local newsNews

Dit is hoekom meeste Suid-Afrikaners nie ‘n huis kan bekostig nie

Suid-Afrika het sedert 2000 19.3 miljoen mense bygekry maar slegs 1.9 miljoen huise is gebou.

Suid-Afrika het nie net ‘n tekort aan huise nie, maar nuwe ontwikkelings word ook benadeel deur stygende boukoste, wat elke generasie eiendom minder bekostigbaar maak as die vorige een. Trouens, eiendomspryse het salarisse vir die afgelope 70 jaar verbygesteek – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

Voeg hierby Suid-Afrika se swak ekonomiese groei, lae indiensnemingskoers en stagnante loongroei, en dit raak maklik om te sien hoekom dit al moeiliker raak vir lae tot middelinkomste Suid-Afrikaners om ‘n huis te bekostig.

Nasionale veranderinge
Sekere faktore buite die eiendomsmark moet verander voordat die interne probleme opgelos kan word, sê Renier Kriek, besturende direkteur van die  Sentinel Homes.

  • Ekonomiese groei: Suid-Afrika het dringend volgehoue ekonomiese groei nodig, gedryf deur konsekwente ekonomiese beleid,” sê Kriek.

  • Strukturele hervorming: Buitelandse beleggings wat Suid-Afrika ontvang, skep nie infrastruktuur of werk nie; dit is portefeuljebeleggings wat maklik onttrek kan word. Die land het strukturele hervormings nodig soos deregulering, arbeidsmarkhervormings, liberalisering van handel, privatisering of publiek-private vennootskappe, en belastinghervormings om infrastruktuurbeleggings aan te moedig. Dit mag selfs ‘n gedevalueerde geldeenheid vereis – iets wat politiek ongewild is, veral onder meer welgestelde verbruikers.

  • Ambagopleiding: Vakmanne tree vinniger af as wat hulle vervang kan word, wat boukoste opstoot. Die meeste van Suid-Afrika se arbeidsmag is nie geskik vir ‘n diensgeoriënteerde ekonomie nie. Die land moet weer industrialiseer en tegniese ambagte soos loodgieters en elektrisiëns aanmoedig, meen Kriek.

  • Beperkende arbeidsbeleid: Suid-Afrika se arbeidswette maak arbeid duurder as in mededingende ekonomieë soos Bangladesj of Sri Lanka. Dit kan aangespreek word deur die geldeenheid te devalueer, invoere te verminder, of deur arbeidswette te liberaliseer. Dit mag beteken werkers verdien minder, maar meer mense sal werk hê – ‘n tydelike toestand wat reggestel sal word soos werkskepping toeneem.

“Om sulke veranderinge op nasionale vlak aan te bring, sal verseker dat probleme in die eiendomsmark nie onoplosbaar is nie,” sê Kriek. “Maar hierdie hervormings sal ook die ekonomie in die algemeen ‘n groot hupstoot gee.”

Veranderinge binne die eiendomsmark
Binne die mark self is daar verskeie probleme wat huisbou duurder en dus minder bekostigbaar maak:

  • Burokratiese rompslomp: Een van die grootste struikelblokke vir ontwikkelaars is oormatige regulasie. Die goedkeuringsproses neem maande tot selfs jare – of dekades. Die regering moet regulasies wat vertraging veroorsaak, hersien of verwyder.

  • NIMBY-isme: “Not In My Back Yard”-teenstand het ‘n stokperdjie geword in Suid-Afrika, waar mense nuwe ontwikkelings met hofaksies probeer stop. Dit verhoog kostes en ontmoedig ontwikkeling. Die wetlike raamwerk moet openbare deelname toelaat, maar dit tydelik beperk en regsprosesse verkort.

  • Vaste kostes: Vaste heffings soos basiese elektrisiteitsfooie tref armes die hardste. Goedkoper behuising raak duur as munisipale kostes bykom, wat daartoe lei dat eienaars nie die eiendom kan bekostig nie. Ontwikkelaars bly dus weg van hierdie marksegmente. Munisipale kostes moet óf volgens werklike gebruik bereken word óf progressief wees (minder vir armes).

  • Vermyding van klein eenhede: Meer kleiner eenhede op ‘n stuk grond beteken meer kombuise en badkamers – die duurste komponente van ‘n huis. Dit kos ook dieselfde om ‘n klein huis te verkoop as ‘n groot een. Die regering moet belastingverligting of grondtoekenning oorweeg om klein, bekostigbare huise aan te moedig.

  • Stadige beskikbaar stel van grond: Nuwe grond moet vinniger beskikbaar gestel word vir ontwikkeling. Prosesse soos omgewingsimpakstudies kan vooraf of gelyktydig met ander prosesse plaasvind. Munisipaliteite kan byvoorbeeld vooraf impakstudies laat doen vir ontwikkelingsgebiede en ontwikkelaars dadelik inlig watter grond beskikbaar is.

  • Beskerming van finansiers en verhuurders: Finansiers en verhuurders speel ‘n belangrike rol in kapitaalvorming vir behuising. Maar hulle word dikwels as bureukraties en uitbuitend gesien. Uitsettings en eksekusies moet geregverdig wees, maar ook vinniger en meer doeltreffend om belegging in behuisingsfinansiering nie af te skrik nie.

Maak die deur oop vir bekostigbare behuising
As 80% van Suid-Afrikaners nie ‘n huis kan bekostig nie, en ontwikkelaars nie belangstel om aan die vraag te voldoen nie, is daar iets ernstig verkeerd. Dit is nie ‘n probleem van innovasie of ekonomie nie – dit is ‘n sistemiese probleem wat die regering moet oplos, sê Kriek.

“Die privaatsektor is winsgedrewe en die vraag bestaan duidelik. Dit is dus die regering se taak om die aansporings te skep en die beperkings te verwyder wat keer dat die privaatsektor bekostigbare behuising kan voorsien,” sê Kriek. “Daar is meer as genoeg geld beskikbaar – die regering moet net ‘n mark skep waarin die hulpbronne na waar die vraag is, kan vloei.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button