Local newsNews

Aspirant jeugleiers rol self moue op om ‘n verskil te maak in dorpe

Jeugleiers word jaarliks geïdentifiseer vir die omvattende mentorskapprogram,

Die jaarlikse mentorskapprogram van AfriForum Jeug is die afgelope maand in Pretoria aangebied as deel van die burgerregteorganisasie se strewe om jong leiers te help vorm. Hierdie intensiewe ontwikkelingsweek, wat van 6 tot 12 Julie gehou is, het 12 uitgekose studente van oor Suid-Afrika heen bymekaargebring om hulle leierskapsvaardighede te ontwikkel, kultuurbewustheid by hulle te kweek en praktiese gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe te ervaar. 

Die groep was geografies en kultureel uiteenlopend en het universiteitstudente van onder meer Stellenbosch, Port Elizabeth, Paarl, Potchefstroom, Bloemfontein en Pretoria ingesluit. Meeste van die deelnemers is aktief by AfriForum Jeug se plaaslike takke betrokke, terwyl ander vir die eerste keer met die organisasie te doene gekry het.

Die program het afgeskop met ’n spesiale fokus op erfenis en kultuur. Die groep het eers ’n besoek aan die Voortrekkermonument afgelê, die Museum Teater ervaar en toe in die ossewaens van die Lewende Laer oornag. Studente het geleer sweep slaan en hul verbintenis tot  kultuur en geskiedenis herontdek.

Die daaropvolgende Maandag het die studente meer oor AfriForum en die Solidariteit Beweging geleer en temas rakende selfdoenaksies bespreek. Die volgende dag is die studente in drie groepe verdeel, waarna hulle na drie verskillende provinsies gereis het om by praktiese gemeenskapsinisiatiewe, gedryf deur AfriForum, betrokke te raak.

Met die besoek aan Bethal, Middelburg en Delmas is gehelp om ’n vullisterrein te oudit, slaggate met 2,5 ton gruis te herstel, gras by ’n plaaslike polisiestasie te sny, verkeerstekens skoongemaak en patrollies saam met Delmas se Valke-buurtwag gery.

Die Limpopo-groep het saam met die Thabazimbi-munisipaliteit slaggate opgevul. 

In Thabazimbi het hierdie groep saam met die plaaslike tak en munisipale werkers 2 ton gruis gebruik om slaggate te herstel. Hulle het ook besoek afgelê aan die plaaslike water- en rioolaanleg, Modimolle (Nylstroom) se vullisterrein en noodwaterpunte besoek en daarna saam met die Potgietersrus-buurtwag patrollies gery.

Studente het saam met die Sasolburg-tak die gebied langs die N1 opgeruim, slaggate in Parys herstel en watertoetse op die Vaalrivier gedoen om die drinkbaarheid daarvan te bepaal.

AfriForum Jeug herstel slaggate in Parys

Dié  groep het hul toer afgesluit met ’n besoek aan die Totius-museum en patrollies saam met die Potchefstroom-buurtwag gery. 

Die program het Donderdag in Pretoria hervat met inspirerende praatjies en werkswinkels wat fokus op persoonlike ontwikkeling. Die Vrydag moes die groep universiteitstudente ’n simulasie-mediakonferensie aanbied oor die week se gebeure en AfriForum se betrokkenheid by waterbestuur, gemeenskapsveiligheid en selfdoenaksies.

Die studente het selfs elkeen basiese skietopleiding saam met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid ontvang.

“Hierdie program stel AfriForum in staat om potensiële leiers vroeg reeds te identifiseer en hulle die nodige hulpbronne te gee om hul vaardighede ten volle te ontwikkel,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button