Klippe uit ou myngat word kunswerke in dié vroue se hande
Teen die tyd dat die laaste koppies koffie leeg was, het almal geweet: hulle gaan hierdie dag onthou lank ná die verf droog is.
Klippe uit ’n ou myngat op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys, is op Vrouedag in unieke kunswerke omskep toe bykans 40 vroue van Parys, Vereeniging, Vanderbijlpark, Vredefort en Potchefstroom saamgetrek het vir die FAK-Vrystaat-Vrouedag.
Die tema was eenvoudig, maar kragtig – soos Dawid vir Goliat oorwin het, kan elke vrou haar eie reuse oorwin, of “berg” uit die pad rol. Hierdie boodskap was ’n vars briesie vir die vroue wat weer nuwe moed gegee het.

Helder kleure is gebruik om met ’n unieke blaastegniek wat deur Platina Verwe
gedemonstreer is, die verbeelding op die klippe vrye teuels te gee. Platina het die verf geborg en só gehelp om geloof en kultuur op ’n kleurvolle manier saam te bring.

“Hier beleef ons kultuur deur dit saam te deel,” sê Jan-Danie Malan, FAK-
kultuurkoördineerder van die Vrystaat.

“Hierdie Vrouedag het gewys hoe sterk ons gemeenskap is wanneer geloof, kreatiwiteit en samehorigheid hande vat. Dit was ’n dag waar ons nie net die swaar van ons klippe erken het nie, maar dit in iets mooi en betekenisvol omskep het.”
Ná ’n oggend vol inspirasie het die groep aangesit vir geurige lasagne en ’n glas wyn, met
geselskap wat maklik gevloei het, en stories wat die bande net sterker gemaak het.
Alta du Plessis, een van die vroue wat die geleentheid bygewoon het, het die waarde van
die oggend beklemtoon. “Hierdie geleentheid is wat ek noem ’n prestige geleentheid!”
Die vroue was dit eens dat dié byeenkoms ’n jaarlikse instelling moet word.
Die FAK bedank elkeen wat die dag moontlik gemaak het – veral SuperPlatina Verwe vir hul
ruim bydrae, en Alta du Plessis, Magda Stone en Aneke Malan vir hul sorgsame beplanning.



